“hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot” (Job 4:19, OAV).
Na die sondeval het die mens sy stryd begin voer teen die nimmereindigende aanslag wat die slang, Satan, op hom uitgevoer het – daar het ‘n vyandskap begin tussen die mens en Satan (Gen 3:15). Deel van die vloek wat gevolg het op die mens se eet van die boom van die kennis van goed en kwaad, was aan die slang: “Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.” (Gen 3:14b). Ons weet slange vreet nie stof nie, maar insekte, diertjies, eiers, en so meer, dus word dit duidelik simbolies bedoel. Die mens, geformeer uit die stof van die aarde (Gen 2:7), is derhalwe op die hoofspyskaart van die Satan.
Die kleipot, the “earthen vessel” (2 Cor 4:7),“earthly tabernacle” (2 Cor 5:1) wat ons mens noem, is bloot stof. En: “Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is (Ps 103:15).
Die laaste paar weke het dit in die lering herhaaldelik gegaan oor die doping met die Heilige Gees, en daar is duidelik die verband uitgewys met die water wat uit die Rots begin vloei. Ons verstaan die vloei van die Gees uit ons egter geweldig beperk. Die Heilige Gees is nie net daar vir die toerusting met gawes nie.
Jesus se uitroep en uitnodiging in Joh 7:37 is van geweldige groot belang op ‘n persoonlike vlak: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” Hierdie uitroep het plaasgevind op die laaste dag van die fees van tabernakels. En dit was nie net toevallig dat dit op die agtste dag van hierdie spesifieke fees plaasgevind het nie. Agt, weet ons, is ‘n simboliese getal van ‘n nuwe begin. Om te besluit dat Hy in hierdie tydelike en breekbare wese te kom tabernakel, lui inderdaad ‘n nuwe begin vir die mens is – die gebrek aan Lewende Water, wat ons laat verpulwer het tot stof, word in ‘n groot mate so teengewerk!.
Met Christus se koms het God dit wat in Sag 13:1-2 geprofeteer is, laat aanbreek: “In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie; en ook die …die onreine gees sal Ek uit die land laat wegtrek.”
- Sela: Leer die Heilige Gees ken as die belangrikste agens in jou nuwe lewe teen die stryd van “sonde en ongeregtigheid” sodat die onrein gees wat in jou is, kan wegtrek.
- Lees: Gen 36; Ps 36; Mat 7
- Memoriseer: Ps 36:9 (E:10) “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.”
- Vir dieper delf: Lees hfst 1 & 2 in Philip Yancey se boek: Reik na die onsigbare God.