Dag 360

“Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil

te wees tot aan die einde van die aarde.”

(Jes 49:6, OAV)

 

In Mat 10:5-6 gee Jesus hierdie eksplisiete opdrag aan sy dissipels: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. Later, na sy opstanding, beveel Hy hulle om selfs ook nie uit Jerusalem te beweeg tot op ‘n sekere stadium nie (Hand 1:4). Dat hierdie nuwe verbond eers aan die Jode gebring moet word, en nie aan die heidene nie (onder wie Jesus duidelik die inwoners van Samaria getel het), is hierdeur ook baie duidelik. Maar in die ontvouing van die nuwe verbond aan almal (na die steniging van Stefanus), word ‘n nuwe tydvak vir alle nasies ingelei.

In die gelykenis van die onwillige huweliksgaste het Jesus hierdie nuwe bedeling aan die hand van ‘n verhaal vertel, en maak Hy dit duidelik: “Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.”

As die epogmakende steniging van Stefanus voltooi is en die nuwe orde ingelei is, kry ons in Hand 8 onmiddellik hierdie opwindende nuwe bedeling in aksie. Die dood van Stefanus het onmiddellik vervolging meegebring “en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaria …”          Dis belangrike gegewe, want in Hand 1:8 het die opgestane Jesus aan hulle gesê: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde”. Dis van pas om hulle na Jerusalem en Judea (= die land van die Jode in Hebreeus) te stuur, maar dat Jesus hulle na Samaria stuur, is binne die heersende denkparadigma van daardie tyd baie vreemd.  Die Jode het hulle geheel en al van die Samaritane gedistansieer. Dwarsdeur die ou verbond was Samaria die bakermat van alle afgodsgodsdienste. Dis híérheen dat die Heilige Gees een van die apostels, Filippus, stuur om “Christus aan hulle (te) verkondig” (Hand 8:5; ook 25). Nadat hy op ‘n bonatuurlike manier getransporteer is, vind hy die hofdienaar van Ethiópië. Aan hierdie ontmande heiden (Bybelse Ensiklopedie) uit ‘n verre land bring hy in Samaria van alle plekke die eerste keer keer die evangelie, en word hierdie hofdienaar die eerste (wedergebore) gesig van die Christendom buite die Jodedom.

Maar hy vervul ook elke letter van die profesie in Jes 56:3-7:“En laat die uitlander (=heiden) wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk, ek is ‘n droë boom nie. Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n gedenkteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie. En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees … hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.”

Hierdie ontwikkeling is in sterk kontras met die Levitiese wette: “No man whose private parts have been …cut off may come into the meeting of the Lord’s people.” (Deut 23:1).  Die nuwe verbond het sy eerste prototipiese bekeerling gekry buite die Jodedom. Ontman, maar draer van die saad van Abraham!

 

  • Sela: Bedink wat die laaste sin vir jou inhou.
  • Lees: Num 32;  Hos 11; Eseg 24 (sien hoe Esegiël se profetiese aksie die lering hierbo verbeeld!)
  • Memoriseer: Hos 11:4a
  • Vir dieper delf: Lees G Byron se Symbolic Blackness and Ethnic Difference in Early Christian Literature