Dag 361

“die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie”

(Open 2:9b, OAV)

 

Die nuwe verbond het in die Ethiopiese hofdienaar sy eerste prototipiese bekeerling gekry buite die Jodedom. Ontman, maar draer van die saad van Abraham!

In die Manna van Dag 240 tot 244 het ons uitvoerig beredeneer oor die saad van Abraham. Ter wille van geheueverfrissing, kan ons ‘n paar gevolgtrekkings net aanstip wat nou – in die lig van die konteksskepping van die vorige klompie mannas – groter reik- en trefwydte sal hê:

  • Synde dat die manlike “sperm” wat van God af gekom het met die verwekking van Jesus, het Jesus geen saad van die fisiese geslagslyn van Abraham en Dawid in Hom nie.
  • Uit verskeie Skrifgedeeltes, byvoorbeeld Gal 3:16, is dit duidelik: dit gaan nie oor die fisiese nageslag (sade) van Abraham (en Dawid) nie – dit gaan oor die geestelike saad van Abraham en Dawid, en sy Naam is Jesus die Christus!
  • Die beloftes aan Abraham en Dawid was oor ‘n geestelike nageslag wat gebore sou word uit die “onverganklike” saad van God – Jesus. Hulle sou weliswaar gebore word in die vlees, maar op grond van geestelike wetmatighede, nie op grond van bloedlyne nie!
  • Vlees en bloed kan mos nie die koninkryk van God beërwe nie, weet ons (1 Kor 15:50), dus word ons, soos Abraham, “geregverdig … uit die geloof” (Gal 3:24). Vers 26 stel dit nog meer duidelik: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus …” Die LITV spel dit nog mooier uit: “And if you are of Christ, then you are a seed of Abraham, even heirs according to promise.”
  • As God praat oor die saad van Abraham en Dawid, is dit onteenseglik duidelik gespesifiseer as die geestelike Saad wat sou voortspruit in die persoon van Jesus Christus, God se saad vir ‘n nuwe ras op aarde. Hierdie ras sou in die Laaste Adam ‘n nuwe geestelike genetika ontvang om verewig saam met Hom – in die vlees op die aarde – te kan lewe.
  • Daarom vermaan Jesus die hoogmoedige Jode, wat deurgaans aanspraak maak op hul fisiese genealogie ten opsigte van Abraham en sê: “moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.” (Luk 3:8).
  • Jesus waarsku die Jode in Mat 21:43: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” Daar is met ander woorde baie “wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie” (Open 2:9; 3:9); hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie (Rom 9:6b) – “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort” (Rom 9:4).
  • Nou begin ons duideliker verstaan wat bedoel Gal 3:28 eintlik: “Daar is nie meer Jood of Griek nie …” En in vers 29 word dit só eksplisiet gestel, ons kan dit nie kwalik mislees nie: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

Dus: om Kelly Varner se rymende aforisme te gebruik: The Jew, my friend, is you!

 

  • Sela: Maak die saak in Open 2:9 hierbo met met God uit.
  • Lees: Num 33;  Hos 12; Eseg 25
  • Memoriseer: Hos 12:7
  • Vir dieper delf: Lees Steve Okitika se The battle for nations.