Dag 362

“who shall declare His generation?”

(Jes 53:8, KJV)

 

Ons sing graag daardie liedjie: “There is none like You …”, dikwels sonder om te besef dat een van die wesenseienskappe van die lewende God is dat Hy enig is – daar is nie nog een soos Hy nie. Hy is, in Jesus se woorde in Joh 5:44, ‘n “Theos monos”, ‘n enkel/alleen God”. Dit is ‘n Nuwe-Testamentiese verwoording van die bekende mitzvah van die Jode in Deut 6:4 – “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” The Jewish Publication Society Bible vertaal dit soos volg: “HEAR, O ISRAEL: THE LORD OUR GOD, THE LORD IS ONE.”

(Terloops, ons besef nie dat hierdie woorde eintlik deel vorm van die Christelike “samevatting van die wet” – soos dit teologies verkeerdelik genoem word – nie. Mark 12:29-31 spel dit onteenseglik uit: “En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.” As formulering van die “wette” van die nuwe verbond, moet dit steeds hooggeag en verstaan word dat God een is.)

Dis juis hiermee dat die Jode ‘n geweldige probleem het met die aansprake van Jesus dat Hy die Seun van God is, en insgelyks ‘n probleem het met die wesensaard van die Christelike geloof wat rondom sy Seun sentreer. In Joh 5:18 word dit uitgespel: “Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy … God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.” In Joh 10:33 word dit eweneens weer vir Hom gesê: “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.” Dit word uiteindelik een van die hoofaanklagte (Mat 26:63) teen Jesus: “Die Jode antwoord hom: Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” (Joh 19:7).

As jy enig is, as daar nie nog een soos jy nie, is jy noodwendig eensaam. Dis belangrik om te verstaan dat God in sy Wese enig en derhalwe eensaam is. Sela.

Daarom is dit so vreemd dat van alle moontlike name wat God vir Homself kan kies, kies Hy die naam “Ewige Vader” (Jes 9:2). Die naam Vader impliseer noodwendig nageslag, verhouding. Daarom is hierdie versgedeelte – wat nie minder nie as 4 keer voorkom in die Skrif –  van so ‘n kardinale belang: “Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.” (Ps 2:7). Die res van die drie herhalings vorm die matriks van die nuwe verbond: Hand 13:33, Heb 1:5 en 5:5 en wys die twee Figure uit as Jehova-God en sy Seun Jesus.

Voor tyd en skepping bestaan het, het die Enige God ‘n besluit geneem en in Homself ingebuig en uit sy Wese self ‘n Seun gebaar/voortgebring/”begotten” (Joh 1:18). Hierdie intimiteit spreek uit Joh 17, waar Jesus met sy Pa praat, en verwys na “die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was”. God het ‘n Seun “gegenereer”, vir een baie belangrike rede – “Hy het ‘n geslag van God gesoek” (Mal 2:15)!

 

Vir dieper delf: Lees T Austin-Sparks se The stewardship of the mystery