Dag 363

 

“Ewige Vader”       

     (Jes 9:6, OAV)

 

Die gedeelte uit die profetiese boek Maleági waarmee ons die vorige manna afgesluit het, is van geweldige groot belang. In sy gesprek met Israel praat God met sy volk oor hul hoerery met goddelose nasies, huweliksontrou en die gepaardgaande verbreking van die huweliksverbond tussen man en vrou. Hy verwys dan na die skepping van Adam en Eva en die feit dat Eva nie uit ander gees gemaak is nie as verwysingspunt om ‘n skrikwekkende stelling te maak: “Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek.” (vers 15). Die Griekse vertaling van die Ou Testament noem dit “semen Dei”, die saad van God.

Die saad van God? God se eie nageslag? Die Skepper is dus nie meer net God en Here nie – Hy word nou ook Vader?

In die ganse Ou Verbond word God bloot die mens se God genoem. Deurgaans word die verbond gesluit met die seël: Julle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir julle ‘n God wees.

Met Dawid, vir die allereerste keer, word ‘n ander belofte gemaak. Jes 55:3 sê God: “Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.” Die woordjie bestendig in Hebreeus het volgens Strongs sterk persoonlikheidsondertone van ‘n “fostering and nursing father”. In 2 Sam 7:8-16 word God se “bestendige genadebewyse” aan Dawid uitgespel. In verse 12 en 13 word geprofeteer dat na Dawid se dood  (“As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het …”) sal daar ‘n “nakomeling” uit Dawid se liggaam voortkom en sy koningskap bevestig. Dan word daar gesê in vers 13: “Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid.” Op grond van die eerste deel van die vers word aangeneem dit is Salomo na wie verwys word, maar dit is nie, want onteenseglik duidelik is sy koninklike troon nie tot in ewigheid bevestig nie! Anders as bykans al die kommentare dit wil verklaar, is dit absoluut duidelik dat hier NET sprake kan wees van Jesus. Hý is die onteenseglik dieselfde Spruit waaroor Sag 6:12 profeteer: “Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.” Dis Hy van wie die Engel aan Maria gesê het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,  en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” (Luk 1:32-33).

Nou, aan Dawid word daar – in die lig van die Goddelike Saad wat uit sy nageslag gaan voorkom, ‘n belofte gemaak in 2 Sam 7:14, vir die heel eerste keer in die geskiedenis: “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees”. Omdat die natuurlike die geestelike voorafgaan (1 Kor 15:46) sal die uitnodiging uiteraard aan Salomo ook gerig word (1 Kron 28:6), maar dis bloot ‘n heenwysing na die Goddelike saad en seuns wat deur wedergeboorte uit Christus  gebore is (1  Pet 1:23).

As God eers in Jesus sy Ewige Vaderskap volgens sy ewige voorneme (Efes 3:11) laat gestalte kry het, beteken dit dat nét hulle wat uit Jesus gebore word, deel van die “Goddelike saad” kan wees. Dit bring ‘n nuwe geslagslyn in … ná Jesus. ‘n Geslag wat Hom as Vader sou leer ken.

 

  • Sela: Probeer verstaan wat sou hierdie geslagslyn kan wees.
  • LeesNum 35;  Hos 14; Eseg 27
  • Memoriseer: Hos 14:3
  • Vir dieper delf: Lees John Kennedy se Secret of His purpose.