“ So het die HERE dan die hele land aan Israel gegee wat Hy hulle vaders met ‘n eed beloof het om hulle te gee; en hulle het dit in besit geneem en daarin gaan woon.”
(Jos 21:43, OAV)
In die onderafdeling van die manna waarmee ons besig is vanaf Dag 341 handel oor die bloed van Jesus wat versoening bring tussen die Jode en die heidene. Ons moes gaan ondersoek hoe die lotgevalle van die Jode as ‘n nasie verloop het binne die groter voltrekkende raadsplan van God. Dit het tot baie interessante bevindinge gelei, veral ten opsigte van die veranderende bedeling tussen ou en nuwe verbond.
As wat ons oor Israel as ‘n nasie geleer het die waarheid is, dan het dit seer sekerlik ook implikasies rondom die geografiese land van Israel. Vir die meeste gelowiges wat Israel steeds as ‘n “uitverkore” nasie beskou, is die stukkie Midde-Oosterse oppervlakte ook bykans heilig. Eweneens het ek jare gelede tydens ‘n besoek aan Israel hierdie ontsettende opgewondenheid gehad om te loop waar Jesus geloop het (behalwe miskien op die water, kleingelowige Thomas J), om te sien waar Hy gebore is, groot geword het, gekruisig is, waar Elia geprofeteer het, en so meer. En soos die meeste ander gelowiges wou ek graag in die Jordaan gedoop te word.
Groot was my teleurstelling toe die geestelike klimaat in Israel só hostile teenoor my gees was, dat ek amper agtien uur per dag in ‘n geestelike oorlog betrokke was. Daar was meer demoniese teenwoordigheid in Israel as in enige ander land wat ek ooit besoek het, Rusland ingesluit. Die godsdienstige gees, wat ‘n demoniese prinsipaliteit van die hoogste orde is, laat geesmense nie net goedsmoeds rondswalk in sy gebied en luilekker toeris-toeris speel nie.
Vir die meeste Christene is dit ‘n bitter pil om te sluk. Wat is dit rondom hierdie stukkie aarde wat dit nie net politiek nie, maar ook veral geestelik so geweldig loaded maak?
En as wat ons rondom die Jode in die vorige mannas gesê het waar is, hoekom het Israel dan na 2700 jaar sy beloofde grond van God teruggekry? Daardie ongelooflike gebeurtenis in 1948 toe die nasie, soos die profesie dit sê, in een dag gebore is? Is dit nie als deel van die profetiese voltrekking van die eindtyd dat Israel uit hul internasionale diaspora en ballingskap moes kom na hulle eie land toe nie, dit wat God met ‘n ewige verbond aan hulle beloof het nie? Dit moes tog gebeur sodat ander eindtydgebeure voltrek kan word? Só is ons immers geleer. Dit is tog wat boek op populêr-apokaliptiese boek sensasioneel uitwys: Jerusalem: the final countdown, Die bondsvolk Israel in die eindtyd, On the road to Armageddon: How evangelicals became Israel’s best friend, en so meer.
Helaas nie. Elkeen van hierdie boeke het breedweg dieselfde teologie ten grondslag, maar dit is dikwels losweg gebaseer op kontekslose versies hier en daar wat ‘n skrikwekkende leuen netjies verpak. Die kerk het so vasgeval in hierdie onBybelse teologie, dat dit hul eie erfdeel as die 42ste generasie geheel en al geroof het.
In die manna wat volg, gaan ons kyk, in die lig van Bybelse profesie, wie se beloofde land Israel inderdaad is. In die tyd waarin hierdie manna geskryf word, vroeg Januarie 2009, is daar ‘n volskaalse oorlog wat woed juis oor hierdie uiters sensitiewe saak, en dit raak die ganse wêreld. En wedergebore Christene met ‘n verkeerde beskouing oor Israel doen mee aan die vyand se plan om nié die Koninkryk in Israel en die omliggende streke te laat kom nie. Skrik.
- Sela: Probeer vir jouself eers uitmaak wat jy glo oor die geografiese Israel.
- Lees: Deut 2 Joël 2; Eseg 28
- Memoriseer: Joël 2:7-9
- Dieper delf: Lees twv agtergrond vir mannas wat volg Paul Johnson se A history of the modern world, pp 484-487 & 666-667.