“Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom.”
(Jos 21:45, OAV)
Ons kyk in die manna of die besitname van die land Israel deur die Joodse nasie vandag, asook die bestaan van die staat van Israel, enige teologiese betekenis in terme van die die vervulling van Bybelse profesie binne die voltrekkende plan van God. Om dit onmiddellik aktueel te maak: Het ons absolute sekerheid uit die Woord om ons volle gewig agter die Sionistiese visie in te gooi?
In die lig van vorige mannas glo ons ons het duidelik uitgewys dat die ou verbond wat met die Jode gesluit is ‘n ander bedeling was as wat verdiskonteer is in die nuwe verbond. Derhalwe, EN DIS ‘N UITERS BELANGRIKE SLEUTEL, moet ons die ou verbond/testament lees in die lig van die nuwe testament. [Trouens, baie van ons teologiese onsinnighede is omdat ons die hele Bybel as “gelyk” aanvaar en interpreteer. In die Ou Testament vervang ons net vinnig dit wat gesê word oor Kores en vul ons eie naam daarin, asof dit vir my gesê word; of ek vat sekere wette uit die Ou Testament en lees dit los van die vervulling daarvan in Jesus. Verskeie dwaalteologieë is hierop gebou, en verskeie Christene hou aan sekere beloftes vas wat nooit aan hulle gegee is nie. Die angel van dié naïewe benadering tot die Bybel is dat ons gemaklik die versies uitlos wat ons nie van hou nie, soos dat ons ons dogter moet stenig as sy met haar huwelik nie meer ‘n maagd is nie (Deut 22:20-21), of dat ons ons seuns met klippe moet doodgooi omdat hy ongehoorsaam en rebels is (Deut 21:18-21).]
1 Kor 10:1-11 verduidelik baie mooi dat alles van die ou verbond in die nuwe verbond vervul is, en as sodanig gelees moet word. Darby vertaal dit só: “ Now all these things happened to them as types, and have been written for our admonition” (v 11). Die English Standard Version sê dit is geskryf vir ons “instruction”. Die tempel en veral die ark van die tabernakel was in die ou verbond die manifestasie van God se teenwoordigheid. Dit is vervang met Jesus, wat onder ons kom tabernakel het (Joh 1:14). Nadat God in die ou dae met sy volk gespreek het op baie maniere, spreek Hy nou deur sy Seun (Heb 1:1-2). Soos al die tipes en skaduwees van die ou verbond vervul is in die nuwe verbond (bv fisiese besnydenis het oorgegaan in geestelike besnydenis, ofte wel wedergeboorte) in Jesus die Christus, is die rol van die Jode en Israel die land eweneens vervul en daarom geherdefinieer.
Die land wat aan Abraham belowe is (Gen 12:1, 15:18, 17:1-8) was ‘n simbool vir daardie spesifieke verbond, WAT LATER IN JESUS VERVUL MOES WORD. Abraham was nie soseer op pad na sy erfdeel, die fisiese Israel nie; hy was volgens Heb 11:10-16 op pad na “die stad … wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is … hulle (het) almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek … (Hulle) verlang na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.”
‘n Fisiese land as erfenis? No way!
Lees weer die Skrifgedeelte uit Josua hierbo. Alle profesieë rakende Israel, “alles het uitgekom”.
- Sela: Vra die Here watter Skrif uit die Ou Testament het jy in goeder trou gebuig en toegeëien.
- Lees: Deut 3 Joël 3; Eseg 29
- Memoriseer: Joël 3:16-18 (tipologies baie belangrik vir hierdie lering)
- Vir dieper delf: Lees Stephen Sizer se artikel op israelnews.com/view.asp?ID=379 .