“Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek … (Hulle) verlang na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.”
(Heb 11:16, OAV)
Ons is besig om te kyk uit die Skrif of die Jode wel ‘n legitieme aanspraak op die land Israel het. Die vorige manna het duidelik uitgewys dat die land van belofte wat God aan Abraham belowe het, die land van melk en heuning, ‘n Ou Testamentiese afskaduwing is van die ander, beter hemelse vaderland (Heb 11:16). Ons het ook uit Jos 21:45 aangetoon dat alle beloftes wat die Here aan fisiese Israel gemaak het, is reeds in die tyd van Josua vervul.
Dis van die uiterste belang dat die begrip hemel dit nie afmaak as ‘n simboliese, allegoriese, vergeestelike of nie-letterlike konsep nie. Dis juis die teenoorgestelde. C.S. Lewis noem in sy Great Divorce: “heaven is the consumate true state of things, it is the consumate true reality”. Dis nie ‘n esoteriese, eteriese “bewussynstaat” daarbo nie, maar ‘n konkrete realiteit. Daar is een besonder raak ‘definisie’ van die begrip hemel in die Skrif, in Hand 7:49 – “ Die hemel is my troon …” Omdat God nie “ingebind” kan word in iets wat Hom nie eens kan omvat nie (2 Kron 2:6) is die hemel bloot die staat waar God regeer, waar sy simboliese troon met ander woorde is. Natuurlik is God veel groter as hemel, “(He that) folded Himself up in a tiny little space called eternity”, soos Gene Edwards dit so onvergeeflik raak gesê het. Die feit dat ons die hemel nie kan sien met die fisiese oë nie, beteken nie dis simbolies of nie-reëel nie. Ons moet geestelike oë van die verstand kry (Efes 1:17) om dit raak te sien, soos die dienskneg van Elisa wat nie die onsigbare magte kon sien alvorens die profeet vir hom gebid het nie (2 Kon 6:17). (Vir meer inligting hieroor, luister na die cd’s hieronder.)
‘n Ander onverrekende faset van die fisiese land van Israel is dit wat in Lev 25:23 uitgespel word: “Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.” Presies dit wat Abraham gesê het, herhaal die Skepper aan die volk – julle is en bly vreemdelinge op aarde (soos trouens alle gelowiges – 1 Pet 2:11). Die grond behoort aan God; ja, die aarde behoort aan die Here (Ps 24:1).
Die Jode maak aanspraak daarop dat die grond wat aan Abraham en die volk gegee is, is op grond van ‘n “ewige verbond” (Gen 17:8). Maar ewige verbond is duidelik in terme van God se “ewige verbond” wat Jer 32:40 en Eseg 37:26 nooit losgemaak kan word van die nuwe verbond nie. In hierdie lig is die Jode se aanspraak op die fisiese land Israel nie legitiem nie – dis hoogstens die mense van die nuwe verbond wat die reg daartoe het, want die ou verbond is getermineer (Heb 8:13).
‘n Baie belangrike ander rede hoekom hierdie ‘n verkeerde argument is, is dat die huidige regering van Israel geheel en al sekulêr is. God se belofte aan Abraham is duidelik gekoppel aan die voorwaarde dat Israel as ‘n nasie Hom moet dien (Gen 17:7). Die sekulêr-humanistiese regering en volk Israel dien nie Yahweh nie. In hulle onafhanklikheidsverklaring wou hul nie eens die naam Yahweh genoem hê nie. Die meeste rabbis was absoluut gekant teen die onafhanklikheidwording van Israel, want hul is van mening dat dít juis die Jode wil vernietig. (Sien bv Rabbi Marvin S. Antelman se boek To eliminate the Opiate.)
- Sela: Maak seker dat jy nie die hemel mitologiseer nie.
- Lees: Deut 4; Amos 1; Eseg 30 (sien die fantastiese sinchronisasie met Deut 4:1!)
- Memoriseer: Deut 4:20
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-reeks: Om die aarde te beërwe – ‘n hemelse perspektief