Dag 369

“Everyone transgressing and not abiding in the doctrine of Christ does not have God. The one abiding in the doctrine of Christ,

 this one has the Father and the Son.”      

   (2 Joh 1:9, LITV)

 

In die vorige manna het ons net aangeroer dat baie Christene vandag glo dat Jode nie nodig het om Jesus as Verlosser aan te neem nie. John Hagee, een van die eietydse voorlopers ten opsigte van hierdie uitspraak, verkondig dis onnodig dat Jode deel van die nuwe verbond word. Hulle meen dat dit absoluut in orde is dat die Jode net hul ou verbond aankleef. Om hierdie rede voer hulle ook aan dat Jode nie geproseliteer moet word nie, met ander woorde geëvangeliseer word nie. Al die Christelike organisasies wat wettiglik in Israel werk, moet ‘n ooreenkoms onderteken dat hul lede nie van die Jode Christene sal probeer maak nie – dis streng verbode.

Daar is geen sin in die argument van Hagee nie. Met die vernietiging van die tempel is die ark van die tabernakel, die “hart” van die Joodse diens aan God, weggevoer. Daarmee saam moes alle fasette van sondoffers gestaak word, soos wat Daniël 9:27 geprofeteer het sou gebeur: slagoffer en spysoffer sal ophou (“cease”). Die rol van die hoëpriester, die ander priesters, eintlik die ganse geloofsfunksionering van die Jode, het daar en dan grootliks tot niet gegaan. Alhoewel daar nog “observant Jews” is, met ander woorde mense wat hul geloof in Yahweh bely en die Torah bestudeer en leef, is dit tegnies gesproke onmoontlik om binne die ou verbond hul geloof te beoefen soos die Torah dit voorskryf.

Om hierdie rede het die Joodse geloof helaas grootliks verval in sekulêre humanisme met ‘n Sionistiese vineer. Die meeste openbare byeenkomste waar Jode moet voorgaan met ‘n geestelike boodskap (op televisie, by skole, parlemente, ens) word gekenmerk deur algemeen menslike uitsprake en wysheid, universeel-toepaslik vir alle gelowe, veral sosiaal-bewus rondom algemeen-aanvaarde menslike moraliteit. Judaïsme het jammer genoeg hoogstens ‘n anachronisme geword: gebaseer op ‘n antieke teks wat gebruik word om ‘n universele geloof van medemenslikheid, moraliteit en etiek te bevorder.

Wat Hagee en kie verkondig is ‘n gevaarlike misleiding en ‘n geweldige onreg teenoor Jode. Elke Jood is net so verlore soos elke nie-Jood. Aan sy mede-Jode het Jesus dit uitgespel: “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6). In Joh 10:9 spel Hy dit verder uit aan die Joodse toehoorders: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.”

In Hand 4 spreek Petrus (‘n Jood) vir Annas, die Joodse hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was (v 6), die owerstes van die volk en ouderlinge van Israel (v 8) toe en maak hierdie onweerlegbare uitspraak in verse 10-12: “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”

 

  • Sela: Bid vir die verlossing van die Jode.
  • Lees: Deut 5; Amos 2; Eseg 31
  • Memoriseer: Eseg 31:14b (in sterk aansluiting by hierdie lering)
  • Vir dieper delf: Lees meer oor die Hagee-kontroversie by http://www.apostasywatch.com/wolves3/page7.html