Dag 370

“Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste …”

(Dan 7:27a, OAV)

 

Ons het in die vorige manna net vir ‘n wyle die mistasting – dat die Jode, anders as al die ander nasies, nie nodig het om Jesus as Verlosser aan te neem nie – verduidelik. Maar dit was net ‘n sydelingse begronding – die hoofargument waarmee ons besig is, het te doen met die legitiemheid van die Jode se geestelike aanspraak op die land Israel.

Ons het onder andere uitgewys dat die hele basis van ouverbondse geloofsfunksionering het met die vernietiging van die tempel en die verdwyning van die ark van getuienis tot niks gekom nie. Israel het daardeur sy “holy land-status” verloor. Kortom: die koninkryk van Israel is vervang deur die Koninkryk van God, en dit is nie geografies gebonde nie.

Wat Hos 3:4 geprofeteer het, het inderdaad plaasgevind: “Want die kinders van Israel sal ‘n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode.” Let op: sonder koning, sonder offers, sonder priesterskap. Daarom dan, as die volgelinge van Jesus na sy opstanding aan Hom vra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”, gee Hy ‘n baie belangrike antwoord wat baie lig werp op die “land”-kwessie: “En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:6-8).

Ons fokus dikwels net op die eerste gedeelte wat sê dat dit hulle nie NOU in staat is om die “chronos” of die “kairos” te kan onderskei nie, maar ons moet dit saamlees met die twee daaropvolgende frases. Wanneer sal hul kronologiese tydgebeure en openbarende tydsgebeure kan onderskei? As die Heilige Gees oor hulle kom – en dit sou eers later gebeur. Dis wat Hy in Joh 16:13 belowe het: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei …alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” In Grieks is die woordjie vir “toekomstige dinge” erchomai, wat beteken: “to come from one place to another”. Deurgaans het Johannes die Doper en Jesus verduidelik dat die Koninkryk nog moet kom, met ander woorde dat dit nog nie daar nie – dit kon eers volledig gebeur met die uitstorting van die Heilige Gees. Die Heilige Gees sal verduidelik hoe die Koninkryk “van one place to another” geskuif het, en dít word dan gekwalifiseer met Hand 1:8 – onder leiding van die Heilige Gees sal die Koninkryk nie net in Jerusalem, Judea of Samaria, m.a.w. die “wyer” Israel nie, maar grens tot “aan die uiterste van die aarde”. God sal nie net meer in Israel tabernakel nie, maar op die ganse aarde!

“Dan word die koningskap en die heerskappy …onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees,” het Daniël geprofeteer. Let wel: die Koninkryk sal gegee word aan die “volk van die heiliges van die Allerhoogste”, nie net aan die Jode nie, soos dit in die Messiaanse Ps 22:27 geprofeteer is: “Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.”

 

  • Sela: Bedink jou konsep van die Koninkryk van God.
  • Lees: Deut 6; Amos 3; Eseg 32
  • Memoriseer: Amos 3:3 & 7
  • Vir dieper delf: Lees Darrow Miller se Discipling nations.