“God (is) geen aannemer van die persoon ”
(Hand 10:34, OAV)
Die opgetekende geskiedenis van Handelinge 10 is die finale bewysstuk ter tafel – dit word aangebied as ‘n vollengte drama wat al ses argumente netjies in ‘n uitsonderlike verhaal inweef.
Die hoofstuk begin om te vertel van ‘n diep gelowige nie-Joodse man van Cesaréa met die naam van Cornelius, wat in beheer van die Italiaanse leërafdeling was. Hy ontvang ‘n besoek deur ‘n engel wat hom beveel om Simon Petrus, wat in die stad Joppe woon, na hom te laat haal. Meanwhile, back at the ranch at Joppe het Petrus op die dakpatio geklim om seker maar oor die see uit te kyk terwyl hy bid en hy het baie honger geword en wou eet toe hy ‘n visioen sien – die hemel maak oop en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word, sak af. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.
Op hierdie stadium was Petrus, alhoewel deeglik voorgestel aan die Nuwe Verbond, nog sterk geïndoktrineer deur en onder instruksie van die Ou Verbond. En waaragtig God sê: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Hy weier, redeneer, haal seker vinnig Lev 11:1-17 & 20:25, Deut 14:1-29 en Eseg 4:14 aan, maar sonder sukses. God wys met hierdie dramatiese aksie op ‘n intens praktiese wyse hoe die ganse Ou Testament bloot ‘n skaduwee is van die vervulling wat in Jesus gekom het – alle Joodse aansprake op hul etniese bevoorregting en land claims is ook in die laken! Dit gaan nie oor rein of onrein diere nie, dit gaan oor Jesus. Dit gaan nie oor godsdienstige feeste en heilige dae nie, dit gaan oor Jesus. Dit gaan nie oor rituele en offers nie – dit gaan oor Jesus! Die ganse Ou Testament gaan oor Jesus (1 Kor 10:1-11; Luk 24:27; Joh 1:45 & 5:46 en Hand 3:24)! Die ganse profeties-geïnspireerde optekening van die Ou Testament (2 Pet 1:19-21) wys heen na Jesus – die WNT-vertaling stel Open 19:10 raak: “Testimony to Jesus is the spirit which underlies Prophecy.” As ‘n mens vers 15 in die lig hiervan sou parafraseer, spel Yahweh, die God van die Ou Testament, dit aan die fundamentalistiese Jood uit: God het alles [in Jesus Christus] rein gemaak het; jy mag dit nie onheilig ag nie. Die bedeling het verander, Petrus; verander nou jou manier van dink om God se inklusiewe plan te akkommodeer.
Hoe moeilik dit vir Petrus was om sy denkraamwerk te verander, is duidelik – dieselfde ervaring gebeur drie keer na mekaar (v 16). Dit moes vir Petrus ‘n ernstige reminder wees van die drie keer wat hy Jesus verloën het (Luk 22:56-61). Na sy opstanding het Jesus drie keer vir ‘n skaam Petrus gevra het of hy Hom liefhet (Joh 21:15-17). God herhaal ‘n droom of visioen “omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen” (Gen 41:32). Drie in hierdie konteks simboliseer dat die getuienis vasstaan (2 Kor 13:1). Terwyl Petrus verleë nadink oor die visioen, “sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.” (v 19). Drie manne vat hom na Cornelius toe, waar hy die verduidelik dat die teorie oor Joodse bevoorregting in Jesus tot ‘n einde gekom het. In vers 28 maak hy die visioen direk van toepassing op Jode se kontak met ander volkere en mense (soos Jesus ook in Joh 4 dit gedemonstreer het met die Samaritaanse prostituut). En Petrus sit in vers 34-36 die troefkaart op die tafel: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.” En as finale verseëling is al die gelowige heidene met die Heilige Gees gedoop (v 45). Duidelik: by God staan hierdie saak onteenseglik vas.
- Sela: Wat is die implikasie van Hand 10:34 vir jou as individu?
- Lees: Deut 7; Amos 4; Eseg 33
- Memoriseer: Eseg 33:11
- Vir dieper delf: Lees hfst 9 (‘Undoing tribalism’) in Bruxy Covey se boek The end of religion.