“Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.”
(Gal 4:26, OAV)
Met die skryf van hierdie spesifieke manna woed ‘n volskaalse oorlog tussen Israel en ‘n bevrydingsbeweging van Palestina, en die ganse wêreld is in twee kampe gedeel – vir of teen Israel. Ten diepste is die hoofoorsaak van die konflik Israel se besit van die land wat Palestynse sê regmatig aan hulle behoort. In die lig van al die argumente wat in die vorige mannas oor die saak aangebied is, vra dit ‘n totaal ander manier van kyk – uit ‘n nuweverbondoogpunt – na die huidige situasie. ‘n Misverstaan van die rol van Israel in die eindtyd (soos dié van byvoorbeeld John Hagee, of Grant R Jeffreys, of, hier te lande, prof Johan Malan) hou ernstige gevolge in waardeur die Bruid van Jesus Christus mislei word.
Christene word aangehits om aktief deel te neem aan ‘n ondersteuning van Israel se onregmatige aansprake en anti-Christelike optrede, en daardeur – glo ek met absolute oortuiging – speel ons onwetend in die hand van die die koninkryk van duisternis. (Hiermee probeer ek nie politiek kant kies nie – Hamas is myns insiens ewe verkeerd om Israel aanhoudend te terg deur sy langafstandmisiele af te vuur op burgerlike teikens, deur sy lafhartige terroriste-selfmoordbomme, en deur sy onetiese aksie om vroue en kinders as afweringskilde te gebruik, maar dis ‘n debat wat ons nie nou mee werk nie. Ons fokus is om te probeer bepaal wat God sê oor die wortel van die probleem en hoe dit die oploop tot die einde van tye sal rig.)
In Beeld van 12 Januarie 2009, byvoorbeeld, is daar ‘n berig met die kop: PW se weduwee staan op vir Israel. Me Botha beplan om “’n protesaksie teen geweld teen Israel” te begin. “As Christen is ek toegewyd in my ondersteuning van Israel,” sê sy, en baseer haar argument op Gen 12:3: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Sy meen Israel het ‘n “Godgegewe reg om hom te verdedig en kritici van Israel is oningelig.”
Lesers behoort in die lig van die voorafgaande lering nou in te sien dat hierdie tipe uitspraak nie Bybels water hou nie.
‘n Brief van ‘n leser, Rene Rossouw, wat in Beeld van 6 Januarie 2009 geplaas is, spel die groter prentjie (dalk effens te sarkasties) uit ‘n Bybelse en historiese perspektief só uit: “Die Jode mag miskien uit haar oogpunt God se volk wees, maar die laaste keer wat ek gekyk het, is Jesus Christus gebore en het dinge heelwat verander. Die Jode het hul reg op hul land verloor in die Ou Testament al en het ná die Tweede Wêreldoorlog net eenvoudig na Palestina teruggegaan, hulself die land toegeëien met die hulp van die Verenigde Nasies en die VSA, en die Palestyne heeltemal van hul grond ontneem.”
In teenstelling met die dwingende inslag van eietydse Christelik-toegeëiende Judaïsme en gepaardgaande groot klem op Israel en die Ou Testementiese feeste en datums en gebruike, en die verdediging van Israel ten alle koste, is dit belangrik om te verstaan Paulus vergelyk in Gal 4:20-31 Jerusalem (en insgelyks Israel) met die slawevrou Hagar en haar slawekinders, in teenstelling met die vrygemaakte heidene in Jesus Christus as die waarlik vry vrou van belofte.
Al wat vir ons behoort saak te maak, is die Jerusalem/Israel (Rom 9:6; Gal 6:16) daarbo (Gal 4:26), die Nuwe Jerusalem, die Bruid (Open 21:2).
- Sela: Besin voor die Here oor Gal 4:20-31.
- Lees: Deut 8; Amos 5; Eseg 34
- Memoriseer: Deut 8:18
- Vir dieper delf: Lees James Caroll se Constantine’s sword: the Church and the Jews.