“Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het.”
(Jer 16:15, OAV)
Daar is nog een groepie Skrifte wat vry algemeen gebruik word om die totstandkoming van die moderne staat van Israel te regverdig en verdedig wat ons moet verreken. Die masskrif hierbo is een daarvan, maar Skrifte met soortgelyke strekking – wat praat daarvan dat God die verstrooide Israel se lot sal verander en hul sal terugbring na “hul land” toe – vind ons wyd in die Ou Testament: Jes 61:4; Jer 30:3 & 18; 31:23, 38-40; Eseg 16:53; 28:25; 36:33-36; 37:25-28; 39:25; Joe 3:1-2 onder andere.
Een ding wat ons duidelik moet vasmaak rondom die eksegese en verstaan van die Woord van God: die Bybel is gegrondves in ontvouende openbaring (Luk 24:27). (Lees hfst 6 van Michael Cassidy se Getting to the heart of things vir ‘n helder uiteensetting hiervan.) Binne hierdie breë riglyn, moet ons soos volg te werk gaan: die Nuwe Testament interpreteer die Ou Testament; die Sendbriewe interpreteer die Evangelies; die didaktiese leringsgedeeltes verduidelik die simboliese gedeeltes; die universele interpreteer die lokale; Skrif verklaar Skrif. Om dit aforisties te stel: die Nuwe Testament is latent (=”concealed”) in die Ou Testament; die Ou Testament is patent (=”lay open”) in die Nuwe Testament.
Heb 1:1 maak dit baie duidelik: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.” Op die berg van verheerliking het Moses (=die wet) en Elia (=die profete) verskyn. Simon Petrus wou summier ‘n hut vir hulle drie bou, maar God laat hulle in die heerlikheid van die wolk wat Jesus Christus verhul en sê dan: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Mat 17:5). JESUS IS DIE SAMETREKKING VAN DIE WET EN DIE PROFETE – ALLES HET HEENGEWYS NA HOM, nie na Israel of die Jode of die Christene of die eindtyd, of wat ook al nie. In die verlede het God deur die profete gespreek, maar hulle het geprofeteer net tot op die Seun. In Mat 11:13 spel Jesus dit in geen onseker terme uit nie: “Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.” Johannes die Doper was die laaste en die grootste figuur van die Ou Verbond, wat hoofsaaklik gehandel het oor die Koninkryk van Israel (Mat 11:11). Tóé het die dispensasie aangebreek van die Koninkryk van God.
Dus, Jes 66:8 byvoorbeeld: “Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ‘n land op een enkele dag gebore? Of word ‘n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.” Dui dit op die totstandkoming van Israel in 1948? NEE, volgens Heb 1:1 en Mat 11:13. Dit dui op die “heilige volk … wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is” (1 Pet 2:9-10). Dus oor hierdie Israel wat al die profete hierbo geprofeteer het; dis hulle wat uit geestelike ballingskap en verknegting gekom het en die geestelike Israel geword het, kinders van Abraham (Gal 3:7). “From the outset, not all Israelites of the flesh were Israelites of the spirit.” (Rom 9:6, Peterson-vertaling.)
Sion wat weë gekry het, in Jes 66:8 hierbo, is nie die sekulêr-politieke beweging van Sionisme nie; dis die Bruid wat reeds op die berg van Sion aangekom het (Heb 12:22). Ons kom later in detail terug na Sion, maar gaan kyk maar wat die volgende Skrifte daaroor uitspel: Ps 2:6, 48:2, 132:13-14; Jes 12:6, 14:32, 28:16, 51:11 & 16, 59:20, 60:14; Joël 2:32; Gal 4:26 en Open 14:1.
- Sela: Maak hierdie manier van lees van die Bybel vas. En lees asb al die Skrifverwysings hierbo J
- Lees: Deut 13; Eseg 39; Miga 1
- Memoriseer: Eseg 39:27
Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Julle het gekom by die berg Sion