“want aan die vrugte word die boom geken” (Mat 12:33, OAV)
Aan die soom van die kleed van die blou jurk van die hoëpriester was daar alternerend granaatjies (vrugte) en klokkies (gawes). Die doping met die Heilige Gees word gekenmerk aan twee uiterlike manifestasies: die vrugte van die Gees en die gawes van die Gees.
Die vrugte van die Gees is iets wat uit die gelowige voortspruit op grond van sy intimiteit met Christus: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh 15:4-5). Hierdie spesifieke nege vrugte word genoem in Gal 5:22: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Vrug is nie iets wat jy deur “werke” of effort kan voortbring nie; dit is ‘n natuurlike geestelike manifestasie.
As iemand ‘n planting van God is (Jes 61:3), ‘n boom geplant by die waters wat uit die troon vloei (vgl Open 21:1), sal hy sy “vrugte gee op sy tyd” (Ps 1:3). Jer 17:8 sê dat selfs in ‘n jaar van droogte “is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” – hy kan nie anders nie! Daarom sê Mat 7: 17-19: “So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie… So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”
Maar elke boom word op grond van sy vrugte beoordeel. Mat 7:19 stel dit onomwonde: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” ‘n Ysingwekkende gebeurtenis wat dit illustreer, vind plaas in Mat 21:18-19, toe Jesus van die vrug van ‘n boom wou geniet, maar dit geen vrug gehad het nie en Hy dit vervloek het. Die boom het onmiddellik verdroog.
God word verheerlik in jou lewe deur die vrugte wat jy dra: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra.” (Joh 15:8). Daarom kom Hy gereeld na sy tuin om van jou vrugte kom geniet: “Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet.” (Hoogl 4:16).
- Sela: Bid en antwoord Joh 21:5.
- Lees: Gen 38: Ps 38; Mat 8
- Memoriseer: Mat 8:12 en skrik.
- Vir dieper delf: Lees Brother Yun se merkwaardige boek The heavenly man en maak ‘n studie van die belangrikheid van die vrug van die Gees in bykans onhoudbare vervolging.