Dag 380

 

“In Hom leef ons, beweeg ons, en is ons …”

(Hand 17:28, OAV)

 

Uit die vorige manna het ons nou oor die feeste geleer – hulle is “the example and shadow of heavenly things, … the pattern” (Heb 8:5). Dis was bloot “a shadow of good things to come, and not the very image of the things … which … (would) make the comers thereunto perfect” (Heb 10:1). In Christus het die feeste perfek geword, en geen wettiese navolging daarvan maak ‘n verskil in ons navolging van Hom nie. Die feeste bied ons ‘n geleentheid om te onthou hoe God se verlossingsplan in realiteit gestalte gekry het met dit wat met die Israeliete gebeur het, EN MET ONS, MET MY EN JOU gebeur het toe ons uit die vuuroond van die wêreldse sisteem waarin ons verkneg is, gehaal is. Ons sal juis nou ons vryheid herdenk, en nie weer ons deur allerhande wette laat bind nie. “As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? —  almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.” (Kol 2:20-23). Waar die Gees van die Here is, is vryheid (2 Kor 3:17).

Om hierdie saak prakties te illustreer (toegegee dis ‘n banale voorbeeld, maar ‘n goeie een J): Kom ons neem ‘n jong man het ‘n mooi meisie gesien en besluit hy stel baie belang in haar en wil haar beter leer ken. Hy bel haar na haar universiteitskoshuis toe, maar sy is nie daar nie en iemand los vir haar ‘n boodskap dat sy hom moet terugskakel. Sy is so opgewonde daaroor, sy hou die stukkie papier waarop die boodskap verewig is. Hy doen dieselfde met hul eerste ontmoeting se rekening vir koffie, wat hy versigtig daarna bewaar. Sy briefie aan haar om sy liefde te verklaar, hou sy natuurlik; in sy geheue is ingegrif die eerste keer toe hy haar gesoen het. En die uitnodiging tot hul verlowingspartytjie en hul troukaartjie het hulle uiteraard versigtig bewaar en af en toe in nostalgie daarna gekyk, en die geleenthede gedenk. Toe is hulle uiteindelik getroud. Al hierdie memorabilia en gedagtes aan spesiale tye bly daarna nog spesiaal, maar dit was alles net afskaduwings van die uitreik na die Ware: om getroud te kom! Hierdie paartjie sal natuurlik hierdie dae gedenk (letterlik: daaroor dink), maar dit sou half onvanpas wees om elke jaar die spesifieke dag waarop die telefoonoproep gemaak is, in detail te gedenk. Om op dié dag die ervaring te simuleer, mekaar te bel, boodskappe los, en vir tien minute lank in ekstase op die bed te gaan lê en met jou bene ekstaties skop uit opgewondenheid, is bietjie over-the-top. Toegegee? En dieselfde met al die ander spesiale dae en ervarings. Om ‘n Dag van die Eerste Soen uit te roep, mag dalk romanties wees, maar dis nie regtig meer nodig nie – veel meer as ‘n piksoen is nou jou deel. Die volheid van die Ware het reeds gekom; die res is bra flou afskaduwings.

As jy die volheid van Christus leer ken, is al die ander heenwysings na Hom pragtig om te gedenk, maar dit is nie naastenby so fantasties om in die volheid van Hom “te leef, beweeg en (te) is” (Hand 17:28) nie.

 

  • Sela: Bid en vra vir die “gees van die vryheid” (2 Kor 3:7).
  • Lees: Deut 15; Eseg 41; Miga 3
  • Memoriseer: Deut 15:4
  • Vir dieper delf: Lees pp 75-87 van Y. Eckstein se How firm a foundation.