“ … die begin van die maande …”
(Eks 12:2, OAV)
In die vroeë Bybelse tye het die maande nie name gehad nie; hulle is slegs deur getalle aangedui. Die maand waarbinne Paasfees gevier word, was nie net die maand van die bevryding nie, maar ook die totstandkoming van die Joodse nasie. Dit is die EERSTE maand genoem. Dis eers ná die Jode in ballingskap was in Babilon dat hul Babiloniese name vir die maande gegee is. Soos wat ek toenemend ongemaklik is om die benaminge van ander afgode in die naamgewing van ons Westerse weeksdae te gebruik (bv Saterdag, wat heenwys na die god van brassery en orgies: Sater; of Sondag wat heenwys na die Songod), is ek eweneens ongemaklik met byvoorbeeld die Babiloniese benoeming van sekere Joodse maande, soos byvoorbeeld Tammuz, wat dui op die demoniese prinsipaliteit (sien Eseg 8:14; Jes 47:5).
Een baie belangrike aspek van die Hebreeuse manier van dink oor tyd is dat dit nie linieêr is nie, maar sirkulêr. Sirkulêr beteken beweging in terme van siklusse. Die begrip “jaar” in Hebreeus beteken letterlik herhaling of repetisie. Die feeste (insluitende die sirkelgang van die jaarwisselinge) is almal daar om met elke siklus Jesus, die Weg (Joh 14:6) te bewandel!
In Eks 12:2 gee God aan Moses en Aäron die volgende opdrag oor die maand Abib: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.” Dit is hoofsaaklik gegrond op die reddingsgebeure wat plaasgevind het toe God die Israeliete uit die land van slawerny verlos het en onderweg gesit het na die land van belofte. Derhalwe het God hierdie verordening gemaak: “Onderhou die maand Abib en hou pasga vir die HERE jou God; want in die maand Abib het die HERE jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei.” (Deut 16:1). Die nuwejaar kry nie die klem en belangrikheid soos wat nuwejaar dit gewoonlik in ons Westerse tradisie kry nie. Dis miskien veral oor die onderbeklemtoning van die nuwe jaar dat die Jode met die loop van jare dalk Rosh Hashanah self gedoop het tot “Joodse Nuwejaar” – dit is egter nie Skrifgetrou om hierdie baie belangrike feesgeleentheid (wat plaasvind op die eerste en tweede dag van die maand Tishri, die sewende maand) die Joodse nuwejaar te noem nie. Die begrip “Rosh Hashanah” beteken letterlik die “kop van die jaar”, of “eerste van die jaar”, maar dit kom egter nie in die Bybel voor nie. Gaan lees gerus in Lev 23:24-25 die verduideliking van hierdie heilige feesdae. Daarbenewens: As ons na al die Moedim (Feeste) kyk, maak dit geestelik vanuit `n heilshandelingperspektief sin dat die jaar in die voortyd van Pesach begin en eindig in die natyd van Sukkot.
Die verordening van God rondom 1 Abib uit Nuwe Testamentiese perspektief dui bloot daarop dat ons moet besef dat God ons weer die geleentheid gee om aan die begin van die herhaling of siklus te kan wees, “perfecting holiness in the fear of God” (2 Cor 7:1, KJV)! Daarom is Ps 23 se bekende vers: “Hy lei my in die spore van geregtigheid” in die oorspronklike Hebreeus eintlik: “He leads me in the cycles of righteousness”, TER WILLE VAN SY NAAM! Hierdie fees van die weke wys bepaald heen na Jesus as ‘n God van nuwe beginne (Ps 103:5; Klaagl 3:23 en 2 Kor 5:17)!
- Sela: Moet ons vandag die Joodse nuwe jaar vier?
- Lees: Deut 16 (belangrik vir dié lering); Eseg 42; Miga 4
- Memoriseer: Miga 4:1-3 & 13.
- Vir dieper delf: ElijahAfrica het ‘n Bybelse dagboek gepubliseer. Kry een as jy nog nie een het nie.