Dag 384

 

“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee” 

(Eseg 36:26, OAV)

 

Die geskiedskrywer Jerome het in sy Ad Tabiol (Afdeling 7) ‘n insiggewende parallel getrek tussen wat op berg Sinaï gebeur het tydens die Israeliete se eerste “geestelike identiteitsgestaltegewing” en die Nuwe-verbondkerk se eerste “geestelike identiteits-gestaltegewing”: “There is Sinai, here Sion; there the trembling mountain, here the trembling house; there the flaming mountain, here the flaming tongues; there the noisy thunderings, here the sounds of many tongues; there the clangor of the ramshorn, here the notes of the gospel-trumpet.”  Inderdaad: albei gebeurtenisse spieël mekaar in die formering van ‘n Peoplehood, die geboorte van ‘n nasie (Israel) en die geboorte van ‘n “n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is” (1 Pet 2:9-10).

Die verbond by Sinaï het nie standgehou nie, en derhalwe moes God binne sy feeste die “kringloop laat volbring” (Jes 29:1) deur ‘n nuwe verbond in te lei. Die noodsaaklikheid vir ‘n nuwe verbond word pragtig en duidelik in reliëf met die ou verbond se mislukking gestel en profeties vooruitgesien in Jer 31:31-33: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.”

Let op: die wet is nou nie meer ekstern nie; dit is nou in hulle binneste geskryf . En die Heilige Gees is die agent wat hierdie verbond verdiskonteer. Joh 16:13: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” Nog ‘n pragtige verklaring is in Eseg 36: 23-28: “En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.”

Onthou: die tabernakel in die wildernis was ‘n model vir die herstelde skepping soos wat dit in die tyd van onskuld was, ‘n model van restourasie. Insgelyks is die feeste prosesnotas in die herstel van die skepping in die gang van die gewone gebroke lewe!

 

  • Sela: Maak seker dat jy met die Gees van God vevul is.
  • Lees: Deut 19; Eseg 45 (belangrik vir die lering); Miga 7
  • Memoriseer: Miga 7:11
  • Vir dieper delf: Lees C.S. Lewis se klassieke The great divirce.