Dag 39

“fruit trees bearing fruit in which is their seed, each according to its kind” (Gen 1:11, ESV )

Alle vrug wat die geestelike mens dra, word gegenereer uit die wortel waaruit hy groei – daarom sê Spr 12:12b “die wortel van die regverdiges lewer vrugte op”. Hierdie wortel waaruit dit spruit, is Jesus (Open 5:5). Al die vrugte is dus manifestasie van Hom in jou lewe (daarom word dit vrug van die Gees genoem, en nie vrugte nie!) Hy IS immers: liefde (1 Tim 1:14), blydskap (Joh 15:11), vrede (Joh 14:27), lankmoedigheid (1 Tim 1:16), vriendelikheid (2 Kor 10:1), goedheid (2 Sam 22:36; Hos 3:5), getrouheid (2 Tim 2:13), sagmoedigheid (2 Kor 10:1) en selfbeheersing (Luk 6:29).

Dis interessant dat die natuurlike mens ook vrugte voortbring, en ‘n dubbele porsie daarvan (9 goeie vrugte word genoem teenoor die slegte 18 vrugte wat genoem word): “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge.” (Gal 5:19-20). 

Die ontstellende deel lê egter in versreël 21: “waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie”. (Ons kom later op van hierdie vrugte terug.)

Daar kan nie uit dieselfde wortel vrugte van die vlees én vrugte van die Gees spruit nie (Jak 3:10-11). Jy kan dus wedergebore wees, maar nie op die wortel van Christus ingeënt wees nie – jy sal dit duidelik kan sien aan die vrugte wat uit jou voortspruit. “Want … in die vlees … het die sondige hartstogte … in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra.” (Rom 7:5).

Dié wat in die gees is, is “aangestel om vrug te … dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee” (Joh 15:16)! Die voorwaarde om van God te verkry wat jy vra, is om vrug te dra en vrug te bly! 

  • Sela: Vra God om die wortels van al die gelyste slegte vrugte in jou lewe uit te wys en deel daarmee.
  • Lees: Gen 39: Ps 39; Mat 9
  • Memoriseer: Mat 9:37-38. Laat dit ook deel van jou gebed word.
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Die DNA van God: vlammende swaard.”