Dag 394

“wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.”

        (Mat 24:3b-4, OAV)

 

Twee laaste aspekte rondom die Bruid se perspektief rondom Israel vra nog aandag. Die een aspek het te make met die rol van Israel in die die toekoms en die ander een met die toekoms van Israel.

In die verloop van die manna het ons al sydelings ‘n paar aanmerkings gemaak oor die wederkoms en wat ek eindtydfiksie noem – allerlei teologiese (onBybelse) versinsels oor die eindtyd wat gelowiges op ‘n knop jaag oor alles wat nog moet gebeur. Ons sal later in groot detail al hierdie misleiding bespreek (in Dieper delf is daar verwysing na materiaal wat jy solank na kan luister), maar terwyl ons nou die laaste aspekte rondom Israel hanteer, is dit gepas om net ‘n een en ander daaroor uit eskatologiese (eindtyd-) perspektief te sê.

Ons het al verwys na die geweldige bedryf wat ontstaan het uit die fabrikasie van eindtydgebeure. ‘n Groot deel van hierdie Jerusalem countdown is die rol wat Israel in die proses speel. ‘n Deeglike bestudering van byvoorbeeld prof. Johan  Malan se Israel in die eindtyd dui op verskeie gruwelike mistastinge, wat baie verteenwoordigend is van hierdie denkrigting.

Die onafhanklikheidswording van die staat Israel (klaarblyklik volgens hulle verstaan verteenwoordig deur die vyeboom as simbool) word allerweë gesien as die begin van die profetiese “vyeboom wat bot” en  die reminder in Mat 24:32-33 wat dan inskop – “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Hierrondom word ‘n ganse teologie gehang: die wegraping, die groot verdrukking en die middelpuntvliedende rol wat Israel in die eindtyd speel (die politiek rondom wêreldmoonthede, die bou van die derde tempel, die verskyning van die Antichris, die valse verbond wat met Israel gesluit gaan word, die openbaarmaking van die Antichris in die tempel, die slag van Armageddon, die oorlog waartydens Jesus self gaan terugkeer om aan die Jode te wys Hy is die Messias, hulle wat Hom dan gaan herken aan die wonde in sy hande, voete en sy, en gevolglik gaan al die Jode onmiddellik tot redding kom.)

Dis alles baie opwindende Hollywoodmateriaal, maar dis helaas nie Bybels nie. Met die verloop van tyd het ons sense-making fiction só deel geword van dit wat ons van die eindtyd weet, dat ons dit onkrities perpetueer sonder dat ons dit grondig aan die Woord van God toets.

Daar is soveel oor hierdie onderwerp te sê, maar ‘n eenvoudige beginpunt sou die Skrif uit Mat 24 hierbo kon wees, ‘n hoofstuk waaruit veel van die mites gefabriseer word. (Die opskrif van die hoofstuk – wat nie Heilige Gees-geïnspireerd is nie – is al ‘n eerste raam waarbinne die misleiding gepropageer word.)  Lees net ‘n vers verder aan tot by Mat 24:34, waar Jesus dit uitspel: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Hierdie woorde is nagenoeg 30 n.C. geprofeteer; ‘n geslag word gereken op 40 jaar, en dit beteken dat teen 70 n.C. sou dit in vervulling wees. Wat wel tot op die letter toe gebeur het met die vernietiging van die tempel, en al die gruwelikhede wat dit voorafgegaan het.

Maar dis voltooi, verby, nie ‘n vooruitskouing van dit wat nog kom nie. En daarmee saam verval die onwaar vergesigte van die einde van die wêreld wat voorlê. Veral dié rondom Israel.

 

  • Sela: Gaan lees weer Mat 24 uit hierdie perspektief en vra die Heilige Gees vir leiding.
  • Lees: Deut 29; Hoogl  3 & 4.
  • Memoriseer: Hoogl 4:12
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die eindtyd: the days of His Presence.