Dag 396

“The signposts of GOD are clear and point out the right road.”

(Ps 119:105, MSG)

 

Die spilpunt van Bybelse eksegese wat ons in hierdie manna behandel, het geweldige implikasies. Dis van groot belang dat ons die Bybel lees soos wat hy vra om gelees te word. Wat Bruxey Cavey in sy boek The end of religion gesê het, is die spiespunt van ons argument oor hierdie saak: “If following Jesus is our goal, it will radically change how we read, interpret, and apply the Bible.”

Ons begin nou deeglik besef – ‘n enorme deel van ons verwarring oor verskeie sake, insluitende die misverstaan van sentrale aspekte van ons redding, is omdat ons nie die heel belangrikste padkaart wat God met groot moeite aan ons toevertrou het, reg verstaan nie. Dit wat in Jes 29:11-12 staan, het helaas in ‘n groot mate waar geword van die meeste gelowiges: “So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ‘n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël. Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.”

Dit het tot gevolg dat soveel mense – ook omdat hulle nie weet hoe die Bybel vra om gelees te word nie – uiters deurmekaar is oor die geldigheid van Bybelse waarheid. Die meeste mense sien die Bybel bloot as ‘n tydsdokument waarin die geskiedenis van die mensdom opgeteken is, weliswaar uit die (beperkte) perspektief en lotgevalle van ‘n spesifieke nasie, die Jode,  wat God uitgekies het om Homself aan te openbaar. Maar – dit bly vir hulle ‘n tydsdokument wat uiters gedateer blý, redeneer hulle.

Toegegee: Baie van die Ou-Testamentiese voorskrifte lyk regtig op die oog as redelik belaglik, want wie in ons moderne samelewing sou vandag saamstem dat hul dogter as slaaf verkoop kan word (Eks 21:7)? Mens geen werk doen op ‘n Saterdag nie (Eks 35:2)?  Mense wat gestremd is, of te maer is, of ‘n gebreklike skaamdeel het, of ‘n boggel het, verbied om offers aan God te kan bring (Lev 21:17-21)? ‘n Man of vrou wat ontrou is, met klippe doodgooi (Lev 20:10)? Geen varktjoppie of knoffelbotterslakke mag eet nie (Lev 11:7 & 11)? En nie ‘n syhemp en ‘n katoenonderbroek gelyk dra nie (Lev 19:19)? Tog staan dit alles in die Bybel as streng voorskrifte, swart op wit. Wat en wie gee julle die reg om te pick and choose wat julle wil gehoorsaam, sal die kritici van die Bybel, met reg, sê. As gevolg van onkunde, en veral as gevolg van die vermenging van die ou en die nuwe verbond, het mense dikwels ‘n geweldige verkeerde verstaan van die Bybel, en word wat as pure belaglikhede beskou word, gebruik om die Bybel te diskrediteer.

In die uitgebreide subtema van mannas wat gehandel het oor die gedeelte wat sê “daar is nie meer Jood of Griek nie”, het ons leesstiptelik uit die Woord gewys dat ons te doen het met twee duidelik gemarkeerde dispensasies, en dat elk onderlê word deur ‘n testament, of dan: verbond. Jy kan nie deel hê aan albei verbonde nie. Die eerste verbond is nietemin nie vir jou as nie-Jood aangebied nie. Tog moet ons verstaan: ten spyte daarvan – soos F.F. Bruce in sy briljante The books and the parchments dit sê: “God’s choice of Israel was no act of favouritism – He is no respecter of persons (or of nations, either) – but He selected this particular nation in order that the knowledge of Himself and of His will, revealed to them, might be communicated by them to other nations; and He chose them most of all in order that they might be prepared as the nation in which, when God’s time was ready, the Savior of the world might be born. The history of this preparation is the chief concern of the books of the Old Covenant.”

 

  • Sela: In die lig van hierdie lering, maak vir jouself uit hoe die Ou Verbond gelees moet word.
  • Lees: Deut 32 (BAIE belangrik vir hierdie lering); Hoogl  6 & 7
  • Memoriseer: Deut 32: 28
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Ou en die Nuwe Verbond.