Dag 398

 

“Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom …”

          (Mark 1:15, OAV)

 

Uit die vorige manna is daar baie belangrike implikasies, veral rondom hoe ons die Bybel moet benader, lees en interpreteer. Ons gaan net eers op die sogenaamde profetiese sake aangaande Israel fokus, en dit dan wyer toepas om die hermeneutiese beginsel vas te lê.

Die lering oor die rol van Israel in die eindtyd is 99% gegrond op Ou-Testamentiese profesieë. Dit is gepopulariseer en in die kollektiewe bewussyn gelê deur veral Hal Lyndsey se Late Great Planet Earth, wat sedert sy verskyning in 1970 meer as 30 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop het. (Later het sy twee ander boeke: Satan is alive and well on Planet Earth en There’s a new world coming eweneens op die topverkopelys gedraal vir lang tye.) Op Lyndsey se spoor volg die Left Behind-reeks van Tim LaHaye en Jerry Jenkins, ‘n uitgewersfenomeen wat kwalik nagedoen kan word. Van die publikasie van die eerste boek  in 1995 is daar tans meer as veertig miljoen kopieë in meer as 20 tale van die reeks verkoop, en is daar ‘n konstante stroom gefiksionaliseerde ‘eindtydontvouing’ wat gepubliseer word. (Dan praat ons nog nie van die geweldige verkope van veertig spesiale kindervriendelike uitgawes, cd’s, kassette, dvd’s, ‘n radiodrama, ‘n film, muurpapier, poskaarte, en ‘n-blady-‘n-dag Left Behind-jaarbeplanners en –kalenders nie. Pay now. Fly later.)

In LaHaye se voorstudie tot die Left Behind-reeks wat in 1992 gepubliseer is, No fear of the storm: Why Christians will escape the tribulation, die latere poging tot verantwoording van sy teologie in Are we living in the end times? en in sy Prophetic Study Bible (waarvan hy die hoofredakteur was) spel hy dit telkens uit dat alle Christene tydens die Wegraping verwyder moet word sodat God spesifiek met Israel kan handel. Israel vorm die middelpuntvlietende krag in bykans al hul argumente oor die eindtye.

Omdat die onafhanklikheid van Israel in 1948 volgens hierdie oortuiging so ‘n belangrike profetiese aanduier is van die Wegraping, het heelparty (soos LaHaye en Johan Malan hier te lande) om op grond van Mat 24:34 gewaag-gewaag om te suggereer dat dit binne een generasie daarna sou plaasvind. Maar 40 jaar na 1948 het daar helaas nog niks van die voorspelde gebeure plaasgevind nie, en is van die scenario’s in opvolgende herdrukke van van die boeke gewysig.

Ons het al gewys dat dit nie Israel se vyeboom is wat profeties bot nie, want Luk 21:28-32 wat daaroor handel, en sê dat “die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur”, stel wederkoms met die koninkryk van God gelyk. Maar Johannes die Doper (Mat 3:2) het al met die aanloop tot die vestiging van die nuwe verbond dit uitgespel. Ook sê Jesus presies dit (Mat 4:17), trouens in Mark 1:15 koppel hy dit tóé reeds aan die volheid van tyd: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” Die woordjie in Grieks wat vir “tyd” gebruik word, is nie chronos, soos in horlosie- en kalendertyd nie, maar kairos, wat beteken: “the appointed time, the decisive epoch waited for”. Die woordjie “vervul” word ook gebruik, in Grieks pleroo, wat beteken: “to fill to the full …  to fill to the top … to make complete in every particular, to render perfect … to carry through to the end, to accomplish … to carry into effect, bring to realisation … of prophecies, to bring to pass, accomplish … to fulfil, i.e. to cause God’s promises (given through the prophets) to receive fulfilment”. (Thayer).

Maak dit asseblief vas: die koninkryk van God kom nie eers aan die “einde van tyd” nie; en het niks met Israel te make nie.

 

  • Sela: Maak die laaste paragraaf vas.
  • Lees: Gen 1-3
  • Ondersoek die vervulling: Gen 3:15
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Die Wegraping – ‘n misleiding.