“sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word”
(Luk 21:22, OAV)
In hierdie lig kan mens al die Ou-Testamentiese profesieë wat klaarblyklik handel oor wat met Israel in die eindtyd gaan gebeur, eenvoudig anders verklaar. Eseg 38-39, byvoorbeeld, ‘n gedeelte wat deurgaans (met bedenklike transliterasie van Hebreeuse woorde om eietydse politieke moondhede soos Rusland en Irak uit te wys) gebruik word om te verduidelik hoe alles opbou tot die slag van Armageddon. En dit alles word in die toekoms gesitueer op grond van wat in Eseg 38:16 staan: “en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees …”. Die gebrek aan die groter konteks van God se voltrekkende plan en ‘n onhoudbare hermeneutiese beginsel om alles in die Woord te verletterlik (ons kom later in detail hierby uit) gee aanleiding tot gruwelike misleiding.
Ons het reeds gewys daarop dat die begrip “einde van die dae” dui dikwels op iets wat bloot in die toekoms lê (Deut 4:32; 31:29; Rigt 2:20-22; Dan 2:28; Jer 48:47; 49:39). Voorgemelde is almal verwysings na “die einde van die dae” wat toe in die afsienbare toekoms gebeur het en dus vervul is! In Heb 1:1 waaroor ons vroeër gepraat het, word eksplisiet gestel dat God met ons in “die laaste dae” praat deur sy Seun.
Ralph Woodrow, in sy boek His truth is marching on: Advanced studies in prophecy in the light of history, bied duidelike historiese korrelate, maar dis veral James Jordan met sy Esther in the midst of covenant history wat absoluut oortuigend uitwys hoe die hele geskiedenis vanaf Eseg 34-39 haarfyn vervul is met die geskiedenis van die Jode in die tyd van Ester! Dit sluit die detail name, getalle, plekke, gebeure, en so meer in. Die profesie is met ander woorde reeds vervul.
In Kelly Varner se openbarende lesing van die boek Esegiël, Principles of present truth from Ezekiel, wys hy ondubbelsinnig uit hoe die ganse geskiedenis van die Gog en die Magog reeds voltrek is. In Whose right it is speel hy Skriftuurlik en absoluut helder klaar met die nosie dat Armageddon ‘n fisiese oorlog gaan wees en toon aan wat die Bybel en die geskiedenis daaroor sê en hoe hierdie ‘slag van Armageddon’ ‘n realiteit is waarmee ek en jy daagliks te doen het in ons poging om die Koninkryk te laat kom, soos in die hemel, so ook op die aarde.
‘n Mens hoef nie die vaatjie leeg te drink om te proe hoe proe die wyn nie – ons hoef nie elke Ou-Testamentiese profesie oor Israel te vat en te wys dis reeds vervul nie. Die beginsel wil ons net duidelik benadruk: Al die sogenaamde profetiese sake aangaande Israel is alles alreeds vervul, soos Josua (21:45) dit prototipies uitspel: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom.”
Met die “volheid van tyd”, toe die dispensasie met Israel voltrek is, “toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” (Gal 4:4-5). Die Amplified Bible spesifiseer dat dit eksplisiet gesê word aan “Jewish Christians” (vers 3). In dié trant vertaal Die Lewende Bybel die vers baie insiggewend dan soos volg: “Maar toe die tyd aangebreek het wat God daarvoor bepaal het, het Hy sy Seun gestuur. Hierdie Seun van God het ‘n aardse moeder gehad en Hy was ‘n Jood wat ook onder die gesag van die wet geval het.”
So sou ‘n mens dan die res van die Ou Testamentiese profesieë die een na die ander kon vat en uitwys dat dit reeds IN CHRISTUS tot vervulling gekom het.
- Sela: Gaan lees die geskiedenis van Rut en jukstaponeer dit met Eseg 34-39.
- Lees: Gen 4-6
- Ondersoek die vervulling: Gen 5:2
- Delf dieper: Lees die boeke wat hierbo genoem is.