Dag 402

“En Hy het hulle … vyeboom geslaan en die bome

van hulle grondgebied verbreek.”

(Ps 105:33, OAV)

 

Een van die beste tipologiese illustrasies van die vorige lering is Jesus se gesprek met Natánael in Joh 1:45-51. Jesus is besig om sy 12 dissipels van die Nuwe Verbond bymekaar te maak (die voorbereiding van die Ou-Testamentiese ekwivalent van die 12 stamvaders van Israel). Filippus kry vir Natánael en sê vir hom dat hul Hom gevind het van wie Moses in die wet en die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret. Hierop reageer Natánael redelik snedig oor Násaret, maar laat hom ompraat om Jesus te ontmoet. Maar let op: Jesus beoordeel Natánael dan in terme van sy volk as Hy sê: “Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” ‘n Verbaasde Natánael vra hoe Hy hom ken, waarop Jesus hierdie belangrike woord spreek: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.”

Natánael se reaksie op wat Jesus sê, dui ‘n onmiddellike radikale 180º gesindheidsdraai van sy skeptisisme en agterdogma, want  hy antwoord en sê vir Hom: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!”

Daar lê duidelik iets baie groters in opgesluit as wat ons met die eerste oogopslag raaksien, en dit is gesetel in die vyeboom. Bykans al die Bybelkommentators sê oor hierdie vers dat Natánael bes moontlik onder ‘n vyeboom die woord bestudeer het en daar gebid het, soos dit baie Jode se gewoonte was, maar dit  is suiwer spekulasie. Daarbenewens, volgens Adam Clark se eksegese, is dit nie ‘N vyeboom nie, maar DIE vyeboom, “one particularly distinguished from the others”. Die meeste teologiebeskouers wat aan Israel ‘n prominente plek in die eindtyd toeken, verklaar onomwonde (veral op grond van Hos 9:10) dat die vyeboom Israel simboliseer. In die lig hiervan is Jesus se profetiese waarskuwing in Mat 24:32-34 uiters belangrik: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Hulle sien dus die ontstaan van die onafhanklike staat van Israel in 1948 as die tydperk wanneer Israel (= vyeboom) weer sal bot. Maar hierdie teorie verkrummel heeltemal tot niks in die lig van net die daaropvolgende vers: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Hierdie woorde is gespreek in ongeveer 30 n.C.; een geslag is 40 jaar, dus ‘n presiese korrelasie met die vernietiging van die Joodse tempel, dié simbool van die Joodse verbondslewe, in 70 n.C.

Die vyeboom (Israel) het nie vrugte gelewer nie (Mark 11:12-13), en Jesus het hom vervloek (vers 14) en hy het tot niet gegaan (vers 21). Tussen vers 14 en 21, soos Conrad Gempf in sy boek ook opgemerk het, verklaar Jesus dat die tempel ‘n rowerspelonk geword het (vers 17)!

As Jesus vir Natánael sien, sien Hy hom onder DIE vyeboom van Israel, volgens die profetiese belofte in Miga 4:4 en elders dat “in die laaste dae” (vers 1) elkeen onder die vyeboom sal sit, ‘n uitdrukking wat Salomo eksplisiet rondom Israel toegepas het (1 Kon 4:25) en in Sag 3:10 uitgespel word sal gebeur onder DIE vyeboom as Josua/Jesus, die Spruit, sal kom.

Sien duidelik: die ou vyeboom van Israel is vervloek en afgekap (Mat 3:9-10); die nuwe vyeboom is Jesus. Dís wat Jesus vooruit gesien het in Natánael; en Hy kon bes moontlik Miga 7:1c gebid het: “my siel begeer vroeë vye”.

 

  • Sela: Maak vir jouself uit hoekom die evangelies – soos die OT – tipologies gelees kan word.
  • Lees: Gen 13-15
  • Ondersoek die vervulling: Gen 14:18 (wenk: Heb 7)
  • Delf dieper: Lees pp 67-70 van Conrad Gempf se boek: Mealtime habits of the Messiah.