Dag 403

“My eersgebore seun is Israel.”

(Eks 4:22, OAV)

 

Ons het in die vorige manna ‘n tipologiese toepassing gemaak van Jesus se gesprek met Natánael nét na Hy hom ontmoet het. Ons het duidelik gesien dat Jesus se verwysing na die vyeboom Natánael onomwonde die dieper dimensies van wat sy persoonlike roeping inhou, laat snap het. In sterk teenstelling met sy skeptisisme van sekondes vroeër, sê hy dan: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!” Hierdie eiening van wie Jesus waarlik is, die Ware Vyeboom van God wat goeie vye sal voortbring en nie slegtes nie, en wat vir God bruikbaar is as ‘n offer van eerste vrugte (Jer 24), word in terme van Israel gemaak. Hierin lê uiteraard ook die vooruitwysing na Jesus se vervulling van die Fees van Eerste Vrugte, wat  dui op Jesus as die eerste vrug wat uit die dood opgestaan het (1 Kor 15:20).

Op grond van hierdie openbaring van hom sê Jesus vir Natánael: “Jy sal groter dinge sien as dit.” (Joh 1:50). En dan ontvou Jesus ‘n wonderbaarlike misterie as Hy vir hom uitspel: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.”

Miskien een van die belangrikste oorgesiene aspekte van Israel is dat hulle nie net as die uitverkorenes (Deut 10:15), of die volk van God (Eks 19:5), ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie” (Eks 19:6), kinders van God (Deut 14:1) voorgehou word nie, maar as ‘n seun (let die enkelvoud; sien ook Hos 11:1). As Jesus Homself dan in Joh 1:51 allereers as “die Seun van die mens” voorhou, is dit ‘n belangrike benaming wat die Jode geken het. Hierdie term, wat sy oorsprong het in die profetiese heenwysing in Dan 7:13 na die komende Messias, word spesifiek deur Jesus gebruik as Hy met Natánael praat. Met dit as agtergrond is Jesus se stelling ‘n duidelike teenoormekaarplasing van Israel as seun en Hý as Seun.

Die Jode moes onmiddellik die diepte van verwysing snap, want hul naam as Israel het ‘n aanvang geneem met die Ou-Testamentiese korrelaat van hierdie gebeurtenis wat Jesus beskryf – Jakob wat by Bet-el met ‘n rots onder sy kop gaan slaap het en gedroom het daar is ‘n leer tussen hemel en aarde, terwyl die engele van God daarlangs opklim en neerdaal (Gen 28:12). Na sy verbondsluiting met God worstel Jakob met die Man tot die son moet breek. Met hierdie inisiasie word Jakob en sy nageslag dan Israel gemaak, die prinse van God (Gen 32:24-28). Dit gebeur by die Jabbok, wat in Hebreeus beteken: pouring out, emptying, to spread out as a fruitful vine. Na sy lewensveranderende encounter noem Israel dan die plek Pniël, wat volgens Strongs beteken: face of God. En ons in die Nuwe Verbond weet die “Face of God” van die Onsigbare God is Jesus – “who is the image of the invisible God, the firstborn of all creation” (Col 1:15)! In die eerste naamgewing van die nasie Israel is die belofte toe reeds uitgespel dat hulle hulself as nasie gaan moet “uitgiet”, moet “empty”, vir die “Branch” om uit te spruit en Israel te vervang: “So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.” (Sag 6:12).

Jesus word die Seun van die mens, omdat Israel gekies het om nie meer ‘n seun te wees nie (Mat 23:37-38). “Die seun wat U vir Uself grootgemaak het, Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap” (Ps 80:15-16). Jesus word die ware Vyeboom (Sag 3:10). Jesus word die enigste leer wat hemel en aarde verbind.

 

  • Sela: Bestudeer 8:13; Hos 2:12; 9:10; Joel 1:7 & 12; Hab 3:17; Hag 2:19.
  • Lees: Gen 16-18
  • Ondersoek die vervulling: Gen 16 (wenk: Gal 4:24)
  • Delf dieper: Lees Rabbi MN Kertzer se What is a Jew? en sien hoe die Jode vergeet het wie hul was.