“Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?”
(Jes 5:4, OAV)
Met die insig van die vorige manna het ons ‘n diepgang bereik in ons bespreking van Israel wat geweldige teologiese implikasies meebring. In hierdie manna wil ons dit net in wyer konteks interpreteer sodat die waarheid vasgelê kan word.
Die onderliggende motief van die evangelie van Johannes, het ons uitgewys, is die voorstelling van Jesus as die beliggaming van Israel in een Persoon. Johannes het in die ander evangelies (wat hy bes moontlik gelees het voor die skrywe van syne) duidelik die historiese Jesus afgeteken gesien in die rol van die ware en gehoorsame Israel, ook deur dit wat Jesus direk in die verband oor Homself in reliëf met Israel gesê het.
Daar is verskeie gebeurtenisse wat hierdie parallel uitspel. Israel wat as seun van God (Eks 4:22) nie in die veertig jaar in die woestyn in gehoorsaamheid beweeg nie, maar in wederstrewigheid (Eseg 20:13), word gestel teenoor die Seun Jesus se absolute gehoorsaamheid in die veertig dae in die woestyn. (Die antwoorde wat Jesus aan die duiwel gegee het, wat aanhalings is uit Deut 8:3, 6:13 en 6:16, is die “ideale” vir die ware aanbidding van God wat Moses vir die volk uitgespel het, ‘n insig wat Gerhardsson in sy studie, The testing of God’s Son, in detail verduidelik.)
Jesus se aanhaal uit die boeke van Jesaja en Daniël getuig dat Hy duidelik verstaan het dat dié twee profetiese boeke die transisie van Israel tot die ‘opbou van ‘n Gesalfde’ (Dan 9:25) onteenseglik uitgespel het. Net ‘n enkele voorbeeld uit die boek Jesaja. Hier word die Messias die Kneg genoem (Jes 41:8) met die eksplisiete opdrag om ‘n seëning vir die nasies te wees (Jes 42:1-7). Dit was die oorspronklike mandaat van Abraham, in wie al die nasies van die aarde geseën moes word (Gen 18:18; Eks 34:10). God se hart was nog altyd vir die nasies – sien byvoorbeeld Ps 22:27-28: “Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.” Israel het hom egter van die nasies afgeskei omdat hy trots geword het en hul nie wou dien nie. In sy boek What is a Jew? maak Rabbi Morris N. Kertzer twee uitlatings wat dit illustreer: 1) The creation of the modern state (of Israel) seems quite remote from the prophetic vision of a land destined as ‘a light unto the nations’. En: 2) Modern Judaism is not a proselytizing creed … and (it has) evaporated after the destruction of the Jewish State in the year 70. Jews have been more intent on preserving their heritage than on adding to their numbers through conversion.”
Dwarsdeur die Ou Testament word Israel versimboliseer met ‘n wingerd (Jes 5:7). Vanaf hul vertrek uit Egipte is dit die sentrale metafoor: “‘n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.” (Ps 80:8). In Jes 5:1-7 en Jer 2:21 word verhaal hoe hierdie “edel wingerdstok” begin het om “wilde druiwe voort te bring”. In Eseg 15:6 word die wingerdstok in die vuur gegooi. In Joh 15 identifiseer Jesus Homself as die WARE wynstok en ons as die lote (vers 5) wat in Hom ingelyf is. Inderdaad: Jesus is nou die ware Israel.
- Sela: Watter implikasies het dit vir die verstaan van Mat 28:19?
- Lees: Gen 19-21
- Ondersoek die vervulling: Gen 21:25 (wenk: Joh 4:5-6 & 12)
- Delf dieper: Lees met geestelike onderskeiding hfst 4 van Rick Joyner se The shadow of things to come. (In Afrikaans: Skadu’s van die toekoms.)