Dag 405 en 406

“en so sal die hele Israel gered word”

(Rom 11:26a, OAV)

 

Die ou-tabernakeldenke oor Israel is nog steeds een van die grootste struikelblokke in die weg van heerskappy vir die Bruid. Daar is ‘n vals “fees van tabernakels” wat gepropageer word soos wat Jeróbeam dit in 1 Kon 12:32-33 in Bet-el (van alle plekke) gedoen het. Invloedryke predikers wêreldwyd hou vas aan hierdie valse denke en skram byvoorbaat weg van wat hulle “vervangingsteologie” noem. Laasgenoemde het ‘n skeldwoord geword in die vernuwings-beweging van die tweede dimensie. Dit is egter van enorme belang dat ons God se “present truth” (2 Pet 1:12, Darbey) oor die sake verkry.

In hoofstukke 4 en 5 van sy boek Skadu’s van die toekoms posisioneer Rick Joyner veel van wat in die “eindtyd” moet gebeur ook in terme van Israel. Ook hy waarsku teen die gevaar van die sogenaamde “vervangingsteologie”; hy noem Israel “die bakermat van die kerk”. In hierdie twee hoofstukke, wat wemel van Woord-ongetoetsde, oorgelewerde uitsprake oor die natuurlike Israel, word Rom 9-11 heeltyd voorgehou as die grondslag van ‘n teologie wat die natuurlike Jood en Israel ‘n onaantasbare posisie bied. As deel van sy verdediging van Israel gebruik Joyner hierdie teksgedeeltes en sê daarvan: “Dit kan net op die Jode van toepassing wees volgens die vlees, want in hierdie teks is duidelik dat onderskeid gemaak word tusen hulle en nie-Joodse gelowiges” (p. 74).

Die brief aan die Romeine bied egter in totaliteit ‘n beredenering oor die Jood se posisie in die nuwe verbond en die natuurlike en geestelike Israel se aansprake op die beloftes. Dis maklik om Rom 9-11 apart te lees en die groter argument te mis. Kom ons kyk kortliks net na die voorbereidende argumente wat Paulus spesifiek in hierdie sendbrief hierrondom bied:

 

  • In Rom 1:16-17 maak hy duidelik dat die “evangelie van Christus” is vir elkeen wat glo, eerstens vir die Jood (soos ons verduidelik het in Manna 353 en Manna 354), maar ook vir die nie-Jood.
  • In Rom 2:11 spel Paulus uit dat God geen mens (of volk) bo ‘n ander “uitverkies” nie.
  • In Rom 2:28:28-29 gee hy die Nuweverbonddefinisie van wie Jode is: NIE een wat dit in die vlees is nie, maar wat dit in die gees is deur wedergeboorte. Hierdie word die definisie van Joodskap vir die res van die sendbrief!
  • In Rom 3:9 spreek Paulus sy mede-Jode aan en spel dit eksplisiet uit: “Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie!” In vers 29 sê hy dan ook dat Jode en heidene almal aan God toebehoort, wat Abraham die vader van “ons almal” (Rom 4:16) maak.
  • Nadat hy in verskeie hoofstukke dan oor Abraham en geloof, geregtigheid en versoening met God, sonde en die vrymaking van die wet, die nuwe lewe onder die genadeverbond en die seuns van God skryf, kom hy aan die begin van hoofstuk 9 – wat nou spesisiek oor Israel handel – terug om weer net sy definisie van Joodskap en wie waarlik Israel is, vas te knoop. In Rom 9:4-8: “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort … hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie … Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie …”
  • In Rom 9:27 haal Paulus vir Jesaja aan en stem saam: net ‘n oorblyfsel van die Jode sal gered word, dié wat deur Jesus Christus verlos is.
  • In Rom 10:12-13 spel hy dit onteenseglik uit: daar is geen onderskeid meer tussen Jood en Griek – dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Uit die Jode sal net ‘n oorblyfsel gered word – ons noem hulle Messiaanse Jode. Maar ook sekulêre Jode wat tot redding kom, is deel van hierdie oorblyfsel (Rom 11:5).
  • In Rom 11 gebruik Paulus dan die voorbeeld van ‘n olyfboom om hierdie waarheid te illustreer. Rick Joyner, soos duisende ander wat net die oorgelewerde denke rondom Israel perpetueer, stel Israel simbolies aan die olyfboom gelyk en bou daarrondom ‘n hele teologie en eskatologie. Maar nêrens in Rom 11, of die Bybel, word Israel aan die olyfboom gelyk gestel nie. (Trouens – die vyeboom is die simboliese tipe, soos in die vorige mannas uitgewys is.) Israel word die takke van die olyfboom genoem (verse 16 en 17), wat afgebreek is. Die wildeolyfboom se takke (= nie-Jode) word dan in die olyfboom ingeënt. Die Olyfboom is duidelik Christus, die Gesalfde. Hý is die Gesalfde (1 Sam 2:35; Ps 2:2; Ps 45:7 en Heb 1:9; Jes 61:1 en Luk 4:18-19: Dan 9:25). Jesus is die Wortel van die olyfboom Christus: “Ek, Jesus, … Ek is die wortel en die geslag van Dawid” (Open 22:16). Daarom sê Rom 11:17-18: “En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou.” Die wortel Jesus van die olyfboom Christus dra jou! Jy het deel aan die vettigheid (Heilige Gees-olie = salwing) van die boom. Almal, Jode en nie-Jode, moet ingeënt word om deel daarvan te word. ONS IS NIE INGEËNT IN DIE JODE NIE, MAAR IN CHRISTUS! Die olyfboom was daar lank voor Israel daar was (Deut 6:11; 8:11) – die belofte is reeds aan Noag gegee met die duif (= tipologies van die Heilige Gees met die olyfblaar in sy bekkie – Gen 8:11). Ons almal sit nou soos olyfboompies rondom ons Grootboom se tafel (Ps 128:3)! In die Gesalfde word sy gesalfdes “olyfbome langs hom” wat “twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom” (Sag 4); hulle word die prototipiese twee getuies van Open 11:4.
  • Rom 11:21 sê eksplisiet God het nie die natuurlike takke gespaar nie. Die wildeolyftakke mag uiteraard nie roem teen hulle nie, want ons is almal ewe verlore, en as ons nie deur geloof ingeënt word nie, sal ons nie deel hê aan Hom nie.
  • Rom 11: 25-26 word dikwels gebruik om ‘n dwaalteologie te verkondig. Paulus praat van ‘n “verborgenheid”, naamlik “dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid (pleroma in Grieks) van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word”. Dis belangrik om te onthou: die Jode is verblind deur hul eie harde harte en ongeloof, nie omdat God hulle verblind het ter wille van die heidene wat eers tot geloof moet kom nie (in ‘n vorige manna uitvoerig uit die Skrif vasgelê). “Volheid” word in die Skrif deurgaans gebruik om die tyd aan te dui toe Jesus sy roeping op die aarde kom volvoer het: “Maar toe die volheid (pleroma) van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur …” (Gal 4:4). Soos ons vroeër met die tydlyn van Daniël verduidelik het, het die volheid van die tyd aangebreek met die volvoering van die sewentig profetiese weke met die steniging van Stefanus, EN SO SAL DIE HELE ISRAEL GERED WORD”. Met ander woorde: almal, Jode en nie-Jode, wat in Jesus die Christus ingeënt is, sal gered word. Dit beteken nie dat alle Jode eendag gered sal word nie – Judas is die een enkele getuie wat ons hier kan voorhou, “the son of perdition” (Joh 17:12).

 

Erwin McManus vat dit raak saam: “Two thousand years ago God started a revolt against the religion He started. If He was willing to turn Judaism upside down, don’t think for a moment our institutions are safe from a Divine revolt.” Hoor, hoor hoe val ons vals oorleweringe een vir een.

 

  • Sela: Probeer die openbaring van Jesus die Christus deurgrond.
  • Lees: Gen 22-27
  • Ondersoek die vervulling: Gen 22 (wenk: Heb 11:17-19)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die openbaring van Jesus en sy Christus.