“Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” (Gen 49:1, OAV)
Noudat ons die problematiese Rom 9-11 ten opsigte van die Jode beter verstaan, is dit belangrik om nog een uitstaande Skrifgedeelte wat ten opsigte van die toekoms van Jode totaal misverstaan word, in konteks te plaas – Openbaring 7. Hierdie hoofstuk word deurgaans gebruik om voor te hou dat daar in die toekoms, bes moontlik tydens die sogenaamde groot verdrukking, “getroue Israeliete”, 12 000 van elkeen van die 12 stamme, “verseël sal word” en dat hulle as evangeliste sal optree om die hele wêreld te oortuig van die feit dat Jesus die Messias is. (Volgens diégene wat dit propageer, is die Christene dan reeds weggeraap.)
Hierdie mitologie is weer eens deel van ‘n fiktiewe verhaal wat Christene rondom die Jode fabriseer om ‘n onbybelse eskatologie gestalte te gee. Die voorstanders van hierdie tipe eksegese verklaar dat hulle fundamentaliste is, met ander woorde die Woord letterlik interpreteer, terwyl hul, ironies, dan – soos byvoorbeeld Tim La Hay – deurentyd simboliese sleutels gee om profetiese boeke soos Daniël en Openbaringe te verklaar. Hul lees nie die Bybel soos hy self vra om gelees te word nie; hulle bly in gebreke om “the example and shadow of heavenly things, … the pattern” (Heb 8:5) uit te lees.
In net 5 verse in Openbaring kom enige van die woorde: Israel/Israeliet/Israeliete/Jood/ Jode voor. Hoe die frase “kinders van Israel” (Open 7:4) vertolk moet word, sal die ander 4 verwysings tog uitwys. Ons vind dit daarom nie vreemd nie dat ook die boek Openbaringe in ooreenstemming is met die gebruik van die begrip ‘Jood’/‘Israel’ in die Nuwe Verbond: ‘n versamelterm vir hulle wat wedergebore is en só kinders van Abraham geword het (Joh 8:39; Gal 3:7). In Open 2:9 en 3:9 word beskuldigings gerig teen hulle wat sê dat hulle Jode is, maar dit volgens God se nuwe definisie daarvan nié is nie. Open 2:14 verwys na die geskiedenis van Bileam en Balak wat vloeke teen die “kinders van Israel” ingebring het, maar waar dit ‘n duidelike Nuwe-Testamentiese betekenis verkry deurdat die “gees” agter die Ou-Testamentiese tipologie ook op twee ander plekke in die Nuwe Testament as lering aangevoor word (2 Pet 2:15; Jud 1:11).
Die laaste verwysing na die stamme van Israel is in Open 21:12, waar na die poorte van die Nuwe Jerusalem verwys word wat elk die naam dra van een van die twaalf stamme. Maar die Nuwe Jerusalem is nie ‘n plek nie, maar a people, die Bruid van Jesus. Die name van die twaalf stamme is die korporatiewe identiteit van die Bruid, ‘n lering waarby ons eers later sal uitkom.
Kortom: die boek Openbaringe ondersteun die res van die Nuwe Testament in hul verstaan en verklaring van Israel. Die 144000 is ‘n hoogs simboliese getal, wat dui op die volle dimensie (Rom 8:39) van Goddelike regering. Die twaalf stamme, wat volgens Jak 1:1 toe reeds en nou nog meer as toe “in die verstrooiing” is, is deel van die korporatiewe identiteit wat ons van vader Abraham ontvang het, soos dit uitgespel word as belofte in Gen 49:1 – “Daarna het Jakob sy seuns (= Israel) geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” Volgens Hand 26:8 word hul onteenseglik as Christene gesien. Later meer.
Israel as land en die Jode se rol in die eindtyd? Die Bybel het geen spesifieke posisie of rol vir Israel in die toekoms nie. Niks.
- Sela: Wat sou die vyand se plan wees om die Jode in die eindtyd so prominent te plaas? Lees Open 2:9.
- Lees: Gen 28-30
- Ondersoek die vervulling: Gen 28:12 (wenk: Joh 1:52)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die 12 poorte.