Dag 409

 

“Daar is nie meer … man en vrou nie …”  

         (Gal 3:28, OAV)

 

As deel van hierdie omvattende tema oor die bloed van Jesus wat versoening bewerk, het ons eers gaan kyk na die onderdeel wat sê: “Daar is nie meer Jood of Griek nie”. Ons gaan vervolgens ‘n tema aansny wat in ons tyd miskien nie so kontroversieel klink nie, maar in Paulus se tyd was dit ‘n stelling wat duidelik blasfemies op die oor geval het: “daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus”.

Hierdie is ‘n stelling wat nie net lynreg teen die Midde-Oosterse siening van vroue ingedruis het nie; dis veral ‘n stelling wat deur die Joodse gemeenskap as kettery beskou is, uit ‘n godsdienstige oogpunt totaal onverantwoordelik en verregaande. Trouens, alle Joodse mans bid elke oggend ‘n dankseggingsgebed wat soos volg vertaal kan word: “Praise be to God he hath not created me a Gentile; praise be to God that he hath not created me a woman; praise be to God that he has not created me an ignorant man.” (Tosephta Berakhoth 7,8).

Die etniese biesiemandjie waarbinne die Christelike geloof toevertrou is, Judaïsme, het ‘n diep vooroordeel en diskriminerende praktyk teenoor vroue as – in hulle oë – ‘n minderwaardige spesie. Teen hierdie agtergrond was Paulus se lering ‘n atoombom in die kleine.

Daar is nie meer man en vrou nie – dapper man, dié Paulus.

Vroueregte is en bly een van die geweldige bevrydingstryde van die moderne era. ‘n Mens sou ‘n baie interessante oorsig kon gee oor die onderdrukking van vroue in die geskiedenis, en steeds vandag, die opkoms van die feminisme as ‘n weerstandbeweging, en kon byvoorbeeld eindig met ‘n uitwys van hoe, ten spyte van die Suid-Afrikaanse grondwet wat vroue op ‘n ongekende manier probeer bemagtig, hul steeds deur manlike vooroordeel lamgelê word, veral ook in bediening.

Maar die doel van die manna is nie om die sekulêre wêreldbeskouing rondom vroue te deurgrond nie, maar eerder om uit te wys hoe die bloed van Jesus die kulturele skeiding tussen man en vrou ophef. Let op: die onderskeid tussen man en vrou word nie opgehef en ‘n unisex-mentaliteit voorgehou nie. Duidelik: “van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak,” sê Jesus in Mark 10:6. In manlike en vroulike identiteit lê daar ‘n geweldige groot geestelike krag opgesluit, wat nie uitsluitend ten opsigte van mekaar is nie, maar juis kompleterend ten opsigte van mekaar ‘n ongekende sinergie meebring. Nie verniet nie noem 1 Pet 3:7 man en vrou “mede-erfgename van die genade van die lewe” nie. Ons sal later hierdie verborgenheid (Efes 5:32) verder deurgrond.

En waar alles wat Hy in die eerste 5 dae gemaak het, verseël is met sy Quality of Approval: “Dit is goed”, gee Hy met die skep van die mens in sy twee geslagte ‘n gekwalifiseerde verseëling: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed.” (Gen 1:31).

In teenstelling met hierdie ruim positiewe beskouing oor vroue wat ons hierbo probeer skets het, is daar verskeie uitsprake van Paulus homself wat op die oog af lyk asof dit presies lynreg teen hierdie beskouing is, segginge wat ruik na vooroordeel en diskriminasie. Vroue kan dikwels nie glo dat Paulus uit een mond uit praat nie. Ons kyk na hierdie skynbare teenstrydigheid in opvolgende mannas.

 

  • Sela: Ondersoek jou eie hart ten opsigte van hoe jy werklik voel oor die ander geslag en oor jou eie.
  • Lees: Gen 34-36
  • Ondersoek die vervulling: Gen 35:18 (wenk: let op die betekenis van die name, en Efes 2:6).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Word mede-erfgename van die genade van die lewe.