“So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”
(Mat 15:6, OAV)
As ons moet kyk na Paulus se radikale uitsprake rondom vroue, en wat, daarteenoor, soms lyk na ‘n terugkrabbeling na die Joodse vooroordeel en daaruitvoortvloeiende diskriminasie teenoor vroue, is dit baie belangrik om dit in die konteks te plaas van Jesus se elksedagse omgaan met en uitsprake oor vroue. Jesus het immers die grondslag van die nuweverbond-denke gelê.
Jesus kom met ‘n eksplisiete opdrag om die nuwe orde van die nuwe verbond te vestig, en Hy deins nie ‘n greintjie terug vir menslike oorlewering en tradisie nie. Kyk na sy direkte konfrontering van hierdie menslike leringe en interpretasies van die ou verbond: “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? … So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering … Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Mat 15:3, 6 & 9).
Veel van hierdie oorleweringe en gebooie van mense blyk te wees die Jode se beskouing van vroue. Dit sal dus loon om net kortliks ‘n bietjie stil te staan by hierdie seksistiese vooroordele wat die Jode aangehang het, sodat ons die impak van Jesus se bediening – om hierdie geestelike wanpraktyke nietig te maak – na regte te kan waardeer.
Kom ons kyk eers na een aspek van diskriminasie wat ‘n stortvloed ander vooroordele voorafgegaan het – die feit dat vroue blootstelling aan die Torah geweier is. Daar is geen Skrif wat vroue verbied om deel te hê aan die lees en onderrig van die Torah nie. Tog is dit ‘n gevestigde Joodse gebruik wat neerslag gevind het deur die dominante groep binne hierdie kultuurgemeenskap: die mans. Die Tosephta, ‘n Rabbynse kommentaar, stel dit kategories: “A woman is not to come forward to read [from the Torah, the law].” Die Encyclopaedia Judaica se lemma van ‘Vroue’ wys uit dat Joodse onderrig bykans uitsluitlik deur die Torah plaasvind en dat vroue derhalwe dikwels geensins onderrig ontvang het nie. Uitsprake soos dié van die gesaghebbende Rabbi Eliezer het groot inslag gevind: “Whoever teaches his daughter the Torah is like one who teaches her obscenity.” (Babylonian Talmud, Kiddyshin, 70A). Elders maak hy ook hierdie sterk uitspraak, wat vandag nog wyd as gesaghebbend aanvaar word: “Rather should the words of the Torah be burned than entrusted to a woman.” (Mishnah Sotah, 3.4).
Vroue was dus in die algemeen ongeletterd en mag nie saamgepraat het nie. Dit het binne die eksklusiewe mannegeselskap aanleiding gegee tot allerlei derogatory (“to annul, destroy or lessen the worth of a person”) veronderstellings en uitsprake, waarvan die meeste vroue verlaag het tot ‘n “pitcher full of filth” (Babylonian Talmud, Shabbath 152a); “she is greedy, slothful, and envious … prone to steal and is a gadabout” (Midrashim Rabbah 18.2). Rabbi Johanan het mans gewaarsku dat hul nie enigsins onnodig met vroue praat nie, nie eens met jou vrou of suster nie: “He that talks much with womankind brings evil upon himself and neglects the study of the Law and at the last will inherit Gehenna (=hell).” (Mishnah Aboth1.5).
Ons gee die verwysings uit die Joodse orale wette (wat later opgeteken is) om uit te wys dat dit die wetlike beskouing is en vir die Jode dieselfde gesag dra as wat die wette van God.
- Sela: Vra die Heilige Gees om jou oorleweringe te begin uitwys.
- Lees: Gen 37-39
- Ondersoek die vervulling: Gen 38:28-29 (wenk: let op die betekenis van die naam, en Miga 2:13).
- Delf dieper: Lees Leonard Swindler se Women in Judaism.