
“Hy wat … die middelmuur van skeiding afgebreek het.”
(Efes 2:14, OAV)
Skeiding was dus die beginse waarop die tempelaanbidding in die Joodse geloof ten tyde van Jesus se bediening beoefen is; dit het die onderskeid tussen God en mens, Jood en nie-Jood, mans en vroue, en priesters en gewone mense streng gehandhaaf. Alhoewel daar wel volgens die Torah in sekere spesifieke gevalle onderskeid te tref is, was dit nie wetlike voorskrifte soos wat die oorgelewering dit nadruklik verplig het nie.
Herodus se tempel – wat nie soos byvoorbeeld Salomo se tempel en Serubbabel se tempel in opdrag van God opgerig is nie – het derhalwe (anders as die eksplisiete voorskrifte) verskillende segregerende afdelings gehad wat hierdie skeiding moes handhaaf (Mishnah Midoth 2.5). Die historikus Josephus skryf byvoorbeeld dat die vrouegedeelte slegs bereik kon word deur buitehekke en buitetrappe, wat meegebring het dat die vroue totaal van die mans geskei was tydens die tempelbedrywighede, iets wat nie deur God nie, maar deur menslike magshebbers geinstitusionaliseerd is, deur manlike vooroordeel en menslike oorlewering.
Dis baie belangrik om te besef dat dit die denkklimaat is waarbinne Jesus moes leef en leer. Tog, op grond van sy eksegese van byvoorbeeld 1 Kor 14:34-35 en 1 Tim 2:12 het die groot Gereformeerde vader Johannes Calvyn dit eksplisiet gestel dat vroue minderwaardig geskep is in vergelyking met mans en dus deur mans oorheers en beheer moet word. (Charles Trombley: Who said women can’t teach?, p.8). Die oorgelewerde Joodse denke het selfs tot in die Reformasie sy inslag gevind, en is steeds in ons moderne eeu ‘n debatspunt op sinodes van byvoorbeeld die Gereformeerde Kerke. Daarbenewens het hierdie miskenning helaas ‘n ingegraveerde indruk in ons geestelike kollektiewe bewussyn geword, ‘n toestand wat ‘n mens kan beskryf as masogany.
Die woordeboek definieer masogany as ongegronde vooroordeel en diskriminasie teenoor vroue; selfs onuitgesproke vrouehaat. Jesus word gebore in en groei op in hierdie masoganist gemeenskap en leer ken die vroulike sterotipering persoonlik. Die geweldige gevaar vir ‘n man wat grootword binne so ‘n denkklimaat is om die status quo te handhaaf ter wille van persoonlike gemak en voordeel.
Maar Jesus was van die begin af anders. Daar is verskeie ervaringe van Jesus in interaksie met vroue wat in die evangelies opgeteken is en waaruit ‘n mens kan verstaan waarom Mat 27:55 teen die einde van sy lewe sê: “En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het.”
Toe ‘n vrou hom salf met baie duur en kosbare olie – ‘n voorbereiding vir sy dood – en die dissipels haar godsdienstig betig, het Jesus vir hulle gesê: “Why are you vexing her? For she has done a most gracious act towards me.” (Mat 26:10, WNT). Die woordjie “vexing” sluit die hele repertorium in van alle woorde in die leksikon van vrouehaat: “To plague; to torment; to harass; to afflict; to disturb; to disquiet; to agitate; to trouble; to distress; to persecute.”
Jesus het gekom om die middelmuur van skeiding tussen man en vrou af te breek. Jesus vra steeds, ook aan Calvyn et al.: “Why are you vexing her? For she has done a most gracious act towards me.”
- Sela: Bid oor die masogany van jou onmiddellike samelewing.
- Lees: Gen 40-42
- Ondersoek die vervulling: Gen 41:46 (wenk: 2 Sam 5:4 en Luk 3:23).
- Delf dieper: Lees Charles Trombley se Who said women can’t teach?