Dag 412

“En die draak was vertoornd op die vrou …”

(Open 12:17, OAV)

 

Dis van die begin af duidelik dat Satan die vrou haat. ‘n Mens moet jouself afvra hoekom Satan van die begin af eerder die vrou geteiken het as wat hy Adam geteiken het? Interessant dat die moederbelofte in Gen 3:15 hierdie ewige magspel tussen die vrou en die draak in geen onseker terme uitspel nie: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Hierdie woorde rig God aan Satan, en hy hou die vrou as troefkaart voor.

In Manna 238 het ons in detail na die moederbelofte gekyk. ‘n Paar gedagtes om jou geheue te verfris: Hier word eksplisiet gepraat van die “saad van die vrou”. Op sigself kan die saad van die vrou niks produseer nie, want dit het die (gekontamineerde) manlike saad nodig om ‘n mens voort te bring. En daardie produk sal uiteraard ook gekontamineerd wees: “En hoe sou hy rein wees wat uit ‘n vrou gebore is?” (Job 25:4). Maar die onderskeid word hier eksplisiet gemaak tussen die man se saad en die vrou se saad. Die vers het ook ‘n profetiese belofte, naamlik dat uit die saad van die vrou (‘n nakomeling van Eva) iemand sal voortkom wat die slang (en sy saad/nageslag) sal kan troef. Dit bring ‘n mens by die geweldige belangrike implikasie uit: die saad van die vrou is NIE gekontamineer deur die sondeval nie; wel die man s’n. Om hierdie rede is Eva “lewegewer”, “moeder van alles wat lewe” (Gen 3:20) genoem. Dís waarna Jer 31:22 (GW) profeties uitwys as dit sê: “The LORD will create something new on earth: A woman will protect a man.”

Gen 3:15 gee profeties beslag daaraan dat uit die ongekontamineerde saad van ‘n vrou ‘n Persoon gebore sou word in die “volheid van tyd” (Gal 4:4), en dat Hy “die Satan spoedig onder julle voete (sal) verbrysel” (Rom 16:20). Daar word eksplisiet genoem Hy word “gebore uit ‘n vrou”!

Omdat die vrou God se geheime wapen was om gestalte te gee aan sy Seun, het Satan haar van die begin af gehaat, en sal haar tot die einde toe haat. En ongelukkig het die wêreld, ook die geestelike wêreld, so dikwels meegewerk om hierdie vervolging op elke vlak uit te voer.

Maar omdat Jesus geweet het wat die kosmiese komplot teenoor vroue is, het Hy van meet af aan die vrou uitgesonder in sy bediening en haar geheel en al anders hanteer as wat die Midde-Oosterse beskouing was, wat sy Joodse kultuur deur die leringe van mense vereis het, en wat die onuitgesproke reëls van die chauvinistiese wêreld van Hom gevra het.

Interessant genoeg het Jesus ook nie in Satan se vangstrik geval om aan die teenpool van die verguising van vroue beslag te gee nie – die vergoddeliking van die vrou. In enige gemeenskap waar die vrou verhef word bo haar Godgegewe posisie en roeping, verkry sy die gestalte van Satan. Van al hierdie figure is Jésebel seker die prominentste, maar in die geesrealm is die prinsipaliteitgestalte daarvan die Koningin van die hemele, of meer bekend as “the Queen of Heaven”. Hierdie demoniese prinsipaliteit word in verskeie godsdienste verhef bo Jesus die Christus, en regeer met ‘n ysterhand oor haar domein. Meer daaroor in latere mannas.

 

  • Sela: Bestudeer Open 2:20 biddend.
  • Lees: Gen 43-45
  • Ondersoek die vervulling: Gen 44:2 & 5 (wenk: Joh 4:11).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Verstaan jou vroulike identiteit – Op soek na integrasie