“ … niemand rig haar op nie”
(Amos 5:2c, OAV)
In hierdie en die daaropvolgende paar mannas wil ons spesifiek kyk na Jesus se gesindheid, verstaan en hantering van vroue. ‘n Mens sou baie maklik ‘n vollengte studie kon doen oor Jesus in sy interaksie met vroue, want dit gee tot ‘n groot mate die hartslag van die evangelie weer.
Daar is veelvuldige voorbeelde van hoe Jesus gereageer het op die nood van vroue, maar ons konsentreer vir die oomblik op vier spesifieke vroue wat prototipies ‘n geweldige belangrike posisie van die herstel van die vrou tipologies voorstel. Ons noem dit spesifiek herstel, want een van die dwingendste fasette van Jesus se oorkoepelende roeping: om die middelmuur van skeiding af te breek (Efes 2:14) was die herstel van die “wond” waarvan Jer 14:17 praat: “Laat my oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie; want die jonkvrou, die dogter van my volk, is gebreek met ‘n groot verbreking, met ‘n baie smartlike wond.”
(Dis duidelik uit die Ou-Testamentiese beeldspraak dat Israel soms gelyk gestel word aan ‘n jongvrou, maar op sigself is dit besonder betekenisvol dat Israel spesifiek as ‘n vrou voorgehou word. Benewens die ooglopende simboliese duiding na Israel moet die heenwysing na vroue ook as kollektief uitgelees word. Vergelyk byvoorbeeld Klaagl 2:13 – “Watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Waarmee sal ek jou gelykstel, dat ek jou kan troos, jonkvrou, dogter van Sion? Want jou verbrokenheid is so groot soos die see—wie kan jou gesond maak?” En veral ook Amos 5:2 – “Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie.”)
Niemand rig haar op nie. Jesus het ‘n spesifieke mission gehad. Hy was uiteraard die mees prominente figuur wat die oorgang van die Ou na die Nuwe Verbond moes fasiliteer. Hy, “die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader was, (wat) Hom (moes) verklaar” (Joh 1:18). “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus.” (1 Joh 5:20). Hý het duidelik verstaan wat God se oorspronklike bedoeling met die wet was, en sy bediening was in elke opsig daarop gerig om die aanvaarde oorgelewerde Rabbynse interpretasies van die wet, en al die verdigsels oor vroue, te kom termineer.
Die eerste prototipe vrou waarna ons wil kyk, is die onbekende vrou wat ons leer ken in Joh 8:3-11. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het haar in egbreuk betrap en wou haar op grond van die wet van Moses (Lev 20:10) stenig. Maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, “het Hy Hom opgerig” en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi. Die Engels vertaal die frase as “he lifted up himself” (ASV), of “having bent himself back” (YLT), wat almal gangbare vertalings is, maar in die oorspronklike samestelling wat gebruik word, anakupto, word die woorde reversal en to bow the head saam gebruik In effek is Jesus hier besig om ikonies in lyftaal die onderdanige en veroordeelde vrou se posisie om te keer!
- Sela: Wat sou die betekenis daarvan wees dat Jesus in die sand skryf (Joh 8:6 & 8)?
- Lees: Gen 46-48
- Ondersoek die vervulling: Gen 48:22 (wenk: Joh 4:5).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vroue: Breek deur jou mure – ‘n strategie tot posisionering