“Those who depart from Me shall be written in the earth …”
(Jer 17:13, LITV)
Ons is tans besig om na die eerste prototipe van vroue te kyk wat Jesus aangeraak het in sy gerigte poging om die demoniese aanslag op vroue om hulle te verkneg te reverse. Ons kyk eerstens na die vrou wat in owerspel betrap is.
Na die beskuldiging en Jesus se inisiële (vreemde) reaksie om nie te antwoord nie, maar bloot met sy vinger in die grond te skryf, lees ons dat hulle aangehou het om Hom te vra vir ‘n reaksie. Hy sê toe vir hulle gesê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” (Joh 8:7). Dis ‘n uitsonderlike woord van wysheid wat Jesus hier voor hulle neersit. Hy sê glad nie dat hulle die wet nié moet nakom nie – trouens Hy moedig die toepassing van die wet eintlik aan. Maar hy maak sy lering van vroeër hier skrikwekkend prakties: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Mat 7:1-2). Dit word ‘n totaal nuwe interpretasie van die hantering van die wet. Later, in Mat 23:25-28, sou Hy die eksterne wet en die innerlike wet vir die skrifgeleerdes en Fariseërs in geen onseker terme uitspel nie, daardie wette wat Paulus so onvergeetlik raak geformuleer het as “die wet van die sonde en die dood” wat staan teenoor “die wet van die Gees van die lewe”.
Die feit dat Jesus vir ‘n tweede keer neerbuk en weer eens in die grond skryf, maak dit duidelik dat hierdie handeling ‘n simboliese betekenis dra. Die skrifgeleerdes moes onmiddellik die gedeelte in die boekrol van Jeremia gesnap het: “O HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk (“depart from Me”), sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.” (Jer 17:13).
Paulus het dit eksplisiet later ook uitgespel in Rom 2:1-3 – “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug?” ‘n Paar verse aan, in Rom 2:21-25, spreek hy spesifieke die Jode aan en en maak hierdie ontstellende uitspraak: “Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy ‘n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword.”
Die vrou wat in owerspel betrap is, word ‘n prototipe van die nuwe verbond wat God in Jesus kom demonstreer het. Dat Hy dit spesifiek aan die hand van ‘n vrou gedoen het, is besonder veelseggend ten opsigte van vroue wat vir eeue deur godsdienstige vooroordeel in gevangeneskap gehou is. ‘n Mens sou na regte kon vra: Waar is die man wat in owerspel saam met haar betrap is? Is hy vrygespreek omdat hy ‘n man is? Jesus wys onteenseglik met hierdie uitspraak: Daar is nie meer man en vrou nie … Geen wonder dat die wetsgeleerdes stilletjies verdwyn het, en Jesus die vrou dan vryspreek. “Het niemand jou veroordeel nie? Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” (verse 10 en 11).
Interessant dat die ongewone taalkonstruksie “En toe Jesus Hom oprig” wéér in vers 10 herhaal word. Jesus was in die proses to reverse the curse oor vroue. Onteenseglik.
- Sela: Lees Ps 50:15-23, wat baie gepas sou wees as ‘n gedeelte vir Jesus om op die grond te skryf.
- Lees: Gen 49-50; Eks 1
- Ondersoek die vervulling: Gen 49:1 (wenk: Open 21:12).
- Delf dieper: Luister na Gideon van Eeden se cd-lering: Die Vrou as Baarmoeder vir God.