“Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou …”
(Joh 4:23, OAV)
Die tweede vroueprototipe waarna ons gaan kyk, is eweneens ‘n onbekende vrou – die vrou wat allerweë bekend staan as die vrou by die fontein, en van wie vertel word in Joh 4:4-29.
Hierdie vrou sou ‘n mens kon tipeer as viervoudig gebind: deur kulturele, godsdienstige, morele en seksistiese vooroordele – dit maak haar verhaal besonder merkwaardig. Onthou nou die sosiale konteks in die tyd van Jesus – ‘n man praat nie in die openbaar met ‘n vrou nie. Toe Jesus aankom by die put, begin Jesus ‘n gesprek met haar. Volgens die kulturele oorlewering is dit die eerste taboe. Maar om met hierdie spesifieke vrou te praat, is meer gevaarlik, want sy is boonop ‘n Samaritaan – die tweede taboe. Die Jode het die Samaritane beskou as die skuim van die samelewing. As jy nou werklikwaar vir iemand deeglik wou slegsê (“reproach mingled with contempt or disdain”), het jy hom dié Joodse gesegde toegesnou: Jy is ‘n Samaritaan en van die duiwel besete, wat die Fariseërs ook vir Jesus toegeroep het (Joh 8:48). Daar was dus duidelik totale afskeiding tussen Jode en Samaritane nie. (Daarom was Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan so ‘n geweldige doring in die vlees van die Jode. Want in die verhaal stap die priester én die Leviet verby, en word hul deur Jesus as onbarmhartig getakseer. Sien Luk 10:30-37.)
Die derde taboe is dat hy met hierdie vrou oor geloofsaangeleenthede praat. Jode het die aansprake wat die Samaritane op hulle geloofserfenis gehad het, totaal geminag. Na die Jode uit ballingskap gekom het, het hulle die Samaritane verbied om saam met hulle te aanbid, en na hulle vir hulself ‘n tempel gebou het, is dit afgebrand. Benewens die feit dat ‘n man nie enigsins met ‘n vrou oor geloofsake gepraat het nie, het jy dit veral nie met ‘n Samaritaanse vrou gedoen nie.
Die vierde taboe was eweneens ‘n geweldige probleem – hierdie vrou by die put was ‘n vrou van twyfelagtige sedes, bes moontlik ‘n prostituut. Deur ‘n woord van kennis weet Jesus dat die vrou reeds vyf mans gehad het; en die een wat sy nou het, is nie haar man nie. Uiteraard het die gemeenskap ook geweet van hierdie vrou se reputasie. Om met haar in die openbaar te gesels, sou maklik die indruk kon skep dat Hy besigheid met haar wou doen. Hy het Hom nie vir ‘n oomblik gesteur aan wat ander mense mag dink oor Hom nie. Hy was besig om in die openbaar ‘n ondubbelsinnige statement oor vroue te maak. Hy beur teen elke moontlike Joodse vooroordeel teenoor vroue, en gee per definisie ‘n stem aan elke groep waarteen die status quo homself opstel,
Die anonieme vrou by die fontein, miskien dié simbool van marginalisering en minagting, kry egter veel meer as enige persoon in die ganse bediening van Jesus die Messias – Hy vertrou aan haar die grootste openbaring van die nuwe verbond toe. Hy verduidelik haar in besonderhede die koms van die Heilige Gees en hoe die nuwe verbond los is van plek en tyd en verplaas word na binne jou, dit wat Paulus later in soveel besonderhede kon formuleer (Kol 1:27). Maar moet nie uit die oog verloor nie – die geheim oor die geestelike lewe wat vrygestel word, word aan ‘n gevalle prototipiese Eva gebied – “die moeder van alle lewe”. Toe val lig.
- Sela: Probeer bedink hoekom die plek van die put in die verhaal so belangrik is.
- Lees: Eks 2-4
- Ondersoek die vervulling: Eks 2:3 (wenk: Heb 12:29).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Kom vry van die bande van vormgodsdiens.