Dag 419

 

 

“lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efes 5:30, OAV)

 

Net ‘n laaste, belangrike opmerking oor die beendere van Josef. In ons moderne konteks sal die meeste mense die saamdra van menslike oorskot vir baie, baie jare in moeilike omstandighede as redelik grillerig ervaar, en verstaanbaar so. Maar beendere dra ‘n belangrike betekenis in die Skrif. Die geskiedenis van Josef se bene word direk gekoppel aan sy geloof, waar ons in die ererol van die vaders van geloof lees: “Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente.” (Heb 11:22, OAV). Wat sou hierdie Skrifgedeelte kon impliseer?

Adam noem Eva “been van my gebeente en vlees van my vlees” (Gen 2:23), ‘n beskrywing wat Paulus bykans verbatim aanhaal in sy kensketsing van die Bruid van Jesus, dat sý “lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efes 5:30) is.

Ons weet ook dat soos die Ou-Testamentiese offerpaaslam se bene nie gebreek mag geword het nie (Eks 12:46 en Num 9:12), ook Jesus se bene nie na die kruisiging gebreek is nie (Joh 19:33), anders as wat deurgaans vereis is met kruiselinge (Joh 19:31-32) omdat dit hulle bykans onmiddellik laat sterf het (want hul moes volgens wet dadelik begrawe word – Deut 21:23). Maar Jesus se bene is nie gebreek nie, want die profetiese woord (Joh 19:36) daaroor was eksplisiet: “Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.” (Ps 34:20).

As die Bruid dus been van sy been is, is die bene wat nie gebreek word nie ‘n heenwysing na God se profetiese belofte dat die Bruid bewaar sou bly, elke been intakt: “Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie …” (Joh 17:12). Duidelik is hierdie los beendere ‘n duidelike profetiese heenwysing na die los beendere van Eseg 37, wat dui op die eindtydoprigting van die Bruid van Jesus Christus. (wat dikwels verkeerdelik gelees word as ‘n oprigting van Israel).

Hierdie merkwaardige historiese konteks waarbinne Jesus die onbekende vrou by die fontein van Jakob ontmoet, is van groot belang rondom alles wat ons in voorafgaande mannas kon agterhaal oor God se spesifieke pad met sy volk Israel. Hy kies juis iemand wat nie ‘n Jood is nie, maar deur die Jode geminag word. Hy kies iemand wat voel sy het ‘n verbintenis met vader Abraham en sy beloftes, maar wat in werklikheid as ‘n weeskind van die geloof funksioneer. En, so ironies, wanneer Jesus haar vra vir water, sê sy: “Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?” (Joh 4:11).

Ook hierdie verwysing is gelade. Ons weet nou reeds hierdie plek is die simboliese sametrekkingspunt van al God se profetiese beloftes aan Israel. As Jesus dít voorhou vir hierdie Samaritaanse vrou, verkry die skepding duidelik ook prototipiese allure. Wanneer hierdie beker in die sak van Benjamin gevind is, word dit soos volg gekenskets: “Isn’t this the cup that my master drinks from and that he uses for telling the future?” Gen 44:5, GW). Josef het reeds die profetiese bekertjie gehad om uit die Fontein van die Lewe te skep. Dis só gepas dat die Samaritaanse vrou by hierdie fontein – waar Josef se beendere begrawe is – na hierdie simboliese skepbekertjie vra, die bekertjie wat heengewys het na die vervulling van al God se profetiese beloftes aan Israel – Jesus die Messias.

 

  • Sela: Het jy die skepbekertjie van profesie ontvang?
  • Lees: Eks 14-16
  • Ondersoek die vervulling: Eks 15:27 (Wenk: Jes 16:5; Joh 7:38; Open 21:6)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Beloftes van God – ‘n rivier van die lewe (oor die beendere van Josef).