Dag 420

“Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn en die geur van u salf as al die speserye!”

(Hoogl 4:10, OAV)

 

 

Ons kom nou by die derde prototipiese vrouefiguur, die eerste van twee soortgelyke insidente van besondere betekenis, wat die rol wat vroue gespeel het in Jesus se missie op ‘n besondere wyse benadruk. Dit berei ook die weg voor na die vierde prototipiese figuur..

Volgens Lukas se verslag van die gebeurtenis was dit ook ‘n onbekende vrou. Ons lees in Luk 7:36-38 dat Jesus by een van die Fariseërs wat  Hom genooi het, gaan eet het; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gaan sit “toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was … ‘n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.”

Hierdie is een van die mees intieme tonele waarby Jesus ooit met vroue betrokke was. Dis interessant dat Lukas haar ‘n “onbekende vrou” noem, selfs “’n sondares”, en ook die gasheer se kritiese denke oor die gebeurtenis weergee: “Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.” (vers 39).

In Joh 11:1-2 word die konteks geskep van Lasarus se opwekking uit die dood, en sy twee susters word by name genoem, met ‘n spesifieke opmerking oor Maria: “En daar was ‘n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was.” In die volgende hoofstuk word die volle verhaal dan vertel: “Hulle het toe vir Hom daar ‘n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was. En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.” (Joh 12:2-3).

Dis miskien omdat Johannes sy evangelie later as Lukas geskryf het, dat hy met groter sekerheid geweet het dat dit wel tog Maria was. Maar dit bly vreemd dat Lukas nie Maria op haar naam noem nie.

Nadat Judas sy probleem geopper het rondom hierdie “verkwisting”, maak Jesus hierdie belangrike opmerking: “Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis.” (Joh 12:7). Die GW-vertaling stel dit so: “Jesus said to Judas, ‘Leave her alone! She has done this to prepare me for the day I will be placed in a tomb.’”

Hierdie vrou, dalk is dit Maria, as ons Lukas en die Fariseër kan glo wat haar ‘n sondares noem, het ‘n begrip van Jesus se lydensweg wat al die gelowige en kerkmense rondom Hom nié gehad het nie. Haar aksie spreek van ‘n intieme kennis rondom wat gaan gebeur, en dit maak haar geweldig hartseer. Haar trane drup oor sy voete in die plek van die water wat nodig was om dit te was, en daarna droog sy sy voete af met haar hare, salf sy sy voete met ‘n kosbare salf. Soos met sy voorvader Dawid berei sy vir Hom ‘n doodsbed voor “volgens die kuns van die salfmenger” (2 Kron 16:14); só word sy prototipe van die Bruid-in-restorasie wat met Hom vereenselwig.

 

  • Sela: Watter verband is daar met Rom 6:4?
  • Lees: Eks 17-19
  • Ondersoek die vervulling: Eks 17:6 (Wenk: 1 Kor 10:4)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Breek deur jou mure – ‘n Strategie tot posisionering.