“En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”
(Luk 7:50, OAV)
Hierdie derde prototipiese figuur, vir sommige dissipels bloot ‘n “sondares” sonder naam, het met haar profetiese daad ‘n onuitwisbare getuienis gelewer. Jesus spreek sy gasheer, Simon die Melaatse, aan oor die agterdogma wat hy in sy hart oor hierdie vrou gehad het: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.” (Luk 7:44-46).
Telkens in die evangelies lees ons hoe siekes, vreesagtiges, duiwelbesetenes, sondaars en behoeftiges hulself voor die voete van Jesus gewerp het. Nie net idiomaties beteken dit veel nie, maar duidelik was dit ook reeds ‘n aanduiding van dit wat Paulus in 1 Kor 15:25 só uitgespel het: “Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.” Die salwing van Jesus se voete is dus nie net ‘n terloopse handeling nie. Soos wat die was van Jesus se dissipels se voete ‘n baie pertinente simboliese daad was, was hierdie salwing van sy voete ook van groot belang. Hoekom presies?
In Gen 3:15 maak God hierdie uitspraak: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Nét na Jesus sy dissipels se voete gewas het, sê Hy oor Judas: “Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” (Joh 13:18). Vroeër het Hy hierdie verskriklike uitspraak gemaak: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!” (Joh 6:70). Dié no name brand-Eva wat Jesus se voete met haar trane gewas het, het teruggedraai na die God wat sy indertyd verloën het. Sy het ten seerste die Satan se stem en sy byt aan die hakskeen geken. En sy het geweet sy dra skuld daarvoor dat sy na die slang geluister het en ongehoorsaam was, maar hier was ‘n geleentheid om prototipies om te draai.
Maar sy doen iets meer – sy salf ook sy voete. In die Midde-Oosterse hitte is dit nie ‘n ongewone ding om te doen nie, maar hier verkry die handeling – in Jesus se woorde – duidelik die betekenis van ‘n ritueel. Sy salf Hom vir sy begrafnis.
Maar dan is daar ‘n tweede gebeurtenis, baie soortgelyk aan die eerste, waarvan ons lees in Mat 26:7-12. In verse 6-7 lees ons: “En toe Jesus in Betánië was in die huis van Simon, die melaatse, kom ‘n vrou na Hom met ‘n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was.”
Dit lyk of hierdie twee losstaande gebeurtenisse deur die dissipels verwar word. Duidelik vind een plaas twee dae voor die kruisiging, die ander agt dae daarvoor. Een vind plaas by die huis van Lasarus, die ander by die huis van Simon die Melaatse. By een geleentheid word Jesus se voete gesalf, by die ander geleentheid sy hoof. Dis asof die vroue wat dit gedoen het se identiteit nie vasgepen kan word nie – is ‘n onbekende vrou, ‘n geharde sondares, Maria suster van Lasarus, Maria Magdalena? Ons weet nie presies nie, maar ons weet onteenseglik dit is Eva.
Die vroue was gereed vir die pad terug paradys toe. Mat 27:61 ruk altyd my hart as ek dit lees: “En Maria Magdaléna was daar en die ander Maria, en hulle het reg voor die graf gesit.”
- Sela: Bid en vra God om jou te bevry van “die valslik sogenaamde kennis”.
- Lees: Eks 20-22
- Ondersoek die vervulling: Eks 20:8 (Wenk: Heb 4:9)
- Delf dieper: Luister na Yvonne Dippenaar se cd-lering: Rut: Die vrou se gedurige soek na ‘covering’.