Dag 422 en 423

 

“Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.”

(Mat 26:13, OAV)

 

Ons het die vorige Manna afgesluit met Mat 27:61, wat eintlik die oorgang van die derde na die vierde prototipiese vrou self aangedui het: “En Maria Magdaléna was daar en die ander Maria, en hulle het reg voor die graf gesit.” Ons het nou reeds na simboliese waarde van “die ander Maria” gekyk, maar kom nou uit by Maria Magdalena. Oor min vroue in die Bybel is daar soveel sekulêr geskryf as oor hierdie enigmatige vrou. Sakraal dalk het net ‘n ander Maria, die moeder van Jesus, dalk meer aandag gekry. Maar soos ons gesien het, is dit nie eens seker of dit werklik Maria Magdalena is wat inderdaad Jesus se hoof gesalf het nie.

Hierdie handeling om Jesus se hoof te salf is in ‘n sin van groter betekenis as die salf van sy voete. ‘n Persoon se hoof is net gesalf as hy tot koning gekroon is (Rigt 9:8; 1 Sam 15:1; 1 Kon 1:34; 19:15, ens.) Daarbenewens het die salwing geïmpliseer dat Jesus nie net die Verlosser was nie, maar ook die Gesalfde, die een oor wie die Ou Verbond geprofeteer het, die Christus (Mat 16:20; Ps 2:2; Jes 61:1). [Ons kom later in besonderhede op hierdie geheimenis terug.] Daarom sonder die uitspraak van Jesus hierbo in die masskrif hierdie persoon uit bo alle ander mense. Ironies en betekenisvol dat dit nie aan ‘n vrou met ‘n spesifieke identiteit toegeken kan word nie.

Maar ons is tans besig om na die vierde prototipe van vroue te kyk met wie Jesus in ‘n spesifieke verhouding was. Maria Magdalena word na haar bevryding ‘n getroue navolger van Jesus. Sy was een van “baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het” (Mat 27:56). Dis dan interessant dat sy Hom aan die kruis gesien het (Mat 27:57), deel van die gevolg graf toe was en gesien het hoe sy liggaam neergelê is (Mat 27:61), en toe die sabbat verby was, het sý speserye gekoop om Hom te gaan salf (Mark 16:1), en toe “speserye en salf berei” vir sy liggaam (Luk 23:56).

En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf in die tuin te gaan kyk (Mat 28:1). Dis baie belangrik dat Joh 19:41 uitwys dat “die plek waar Hy gekruisig is, ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie”.

Soos Eva haar onskuld in ‘n tuin verloor het (Gen 3:24), en derhalwe “’n geslote tuin” (Hoogl 4:12) geword het, het haar lewe (vroulik gepersonifieer) geword soos Joël 2:3 dit raak sê: “Voor haar uit verteer ‘n vuur, en agter haar brand ‘n vlam; voor haar lyk die land soos die tuin van Eden, en agter haar is dit ‘n woeste wildernis”.

En hier, in die primoridale tuin, soek die korporatiewe Eva vir Jesus wat vir haar oortreding gesterf het. En Hy is weg! “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” (Joh 20:1-2). Petrus en ‘n mededissipel hardloop graf toe saam met Maria Magdaléna, en die dissipel hardloop vinniger en kom eerste by die graf. Hy sien die klip is weggerol en hy sien die doeke waarmee Jesus verbind was, eenkant lê. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Joh 20:9 sê hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.

Die dissipels het weer huis toe gegaan, maar Maria Magdaléna het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. Let duidelik op – die eerste dissipel het daarna gekyk en die engele nie gesien nie, en Petrus het gekyk en dit nie gesien nie – hulle het bloot die lappe sien lê. Maar toe Maria Magdaléna ingaan, sien sy twee engele, waar? BY DIE VOETE EN BY DIE HOOF, die twee plekke waar Jesus deur die twee vroue gesalf is! Die salwing maak die oë oop (Efes 1:18; 2 Kor 4:6).

“En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie.” (Joh 20:13-14).

En hier ontvou een van die mooiste verhale in die Bybel rondom die mens se terugkeer tot God deur Jesus die Gesalfde. Joh 20:15 – “Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was …”

Die tuinier? Ja, inderdaad, die Tuinier, alleen die Een wat die geslote tuin kan oopsluit, wat die gevalle tuin kan herstel. Dis asof die ganse Hooglied (die ultimate klimaks van alle liedere, die Hoogste van die Hoogste, die Heiligste van die Allerheiligste) hiervoor geskryf is: “Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet. Ek het in my tuin gekom, my susterbruid, ek het my mirre met my balsem gepluk, ek het geëet van my heuningkoek met my heuning, ek het gedrink my wyn met my melk; eet, vriende, drink en word dronk, bemindes. My beminde het afgeloop na sy tuin, na die balsembeddings om hom te vermaak in die tuine en om lelies te versamel.” (Hoogl 4:16; 5:1; 6:2)!

Maar steeds verstaan die prototipiese Eva nie ten volle nie, en vra: “Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem. Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester.” (Joh 20:15-16).

Die geskiedenis van die mensdom is voltrek van tuin tot tuin. Jes 5:7 het geprofeteer: “die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging”. In Jes 51:3 word dit uitgejubel: “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.” En in Jes 58:11 word die belofte van herstel vasgemaak: “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.”

En met die oog op die herstel wat Jesus gebring het, het Jes 61:11 die nuwe bedeling aangekondig: “Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.”      As Jesus met sy openbare bediening begin en die boekrol is oop by Jes 61 en Hy begin lees (sien Luk 4), begin Hy en sê: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het …” En dan, verse 20 en 21: “En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”

“Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.”

 

  • Sela: Bid en besin oor die belangrikheid van die tuin van Getsemane.
  • Lees: Eks 23-28
  • Ondersoek die vervulling: Eks 26:31 (Wenk: Heb 10:20)
  • Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar cd-lering: Ester: Die voorbereiding vd Bruid – Jou gedaante is lieflik.