“En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het.”
(Mark 16:9, OAV)
Ons kom nou in meer besonderhede by die laaste prototipiese figuur wat ons na kyk om te sien hoe God deur Jesus Christus alle vooroordele teenoor die vrou opgehef het. Ons kyk tans in die vierde plek na ‘n figuur wat deur die eeue ‘n prominente plek ingeneem het ten opsigte van haar spesifieke verhouding met Jesus en tans geweldig prominent is in die eietydse populêre kultuur: Maria Magdalena.
Met ‘n vorige Manna het ons reeds heelwat oor die eietydse hype oor Maria Magdalena hanteer, veral na aanleiding van Dan Brown se topverkoper The Da Vinci Code. Volens hierdie spanningsroman, wat aanspraak maak dat hy die ware feite oor Jesus en Maria Magdalena uit die Gnostiese apokriewe gedelf het en dit as waarheid fiksionaliseer, was Jesus en Maria Magdalena getroud en het hul ‘n dogter gehad. Sy het die aangewese bloedlyn van die Merovingian race geword, dié bloubloedgroepering wat onder andere alle koningshuise en die meeste Europese presidente insluit. Dis die groepering wat eintlik, volgens Brown, as die Illuminati (met al sy frontorganisasies, byvoorbeeld die Vrymesselary) die ganse wêreld beheer. Maria Magdalena se baarmoeder en haar nageslag is volgens hierdie oortuiging die “heilige graal”.
Deurdrenk van die kultuurfilosofie van the sacred feminine en mislei deur die Gnostiek, ‘n kwasi-teologiese intellektuele formulering van esoteriese, mistieke kennis (gnosis beteken kennis) wat deur rituele, geesteservaringe en taalgeheimenisse verkry kan word, het hierdie siening Maria Magdalena ‘n ikoon gemaak en ‘n vals posisie gebied as die fisiese bruid van Jesus die Christus.
Ons het die opmerking gemaak in die aanloop tot hierdie subtema dat daar twee vangstrikke is ten opsigte van die oortuigings rondom vroue: óf vroue word geminag en geminimaliseer, óf vroue word gemistifiseer en vergoddelik. Albei ontneem die vrou haar ware God-gedetermineerde posisie. Ongelukkig is Maria Magdalena misbruik om laasgenoemde te vergestalt.
As Paulus in 1 Tim 6:20 skryf dat Timoteus moes waak teen “die valslik sogenaamde kennis” het hy bes moontlik van die Gnostieke invloede in daardie tyd gepraat. Los van daardie goddelike mantel is Maria Magdalena ‘n wonderlike voorbeeld van hoe Jesus vroue bemagtig het.
In die Skrif uit Markus hierbo word die twee uiterstes van Maria Magdalena in een enkele sin teenoormekaar gestel. Jesus sonder weer eens ‘n vrou van twyfelagtige karakter uit as die eerste getuie van die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom – die oorwinning oor die dood! Hierdie vrou, word gesê, is die een uit wie Jesus sewe duiwels gedryf het (in Bybelse terminologie is dit ‘n volheid of totaliteit van demone, dus ‘n legioen – Fausset’s Bible Dictionary), dié teken van ‘n “bose geslag” (Mat 12:45), word uitgehef om die eerste te wees van ‘n nuwe geslag binne ‘n nuwe verbond. En die vrou staan voorop; die laaste Eva – die Bruid.
- Sela: Bid en vra God om jou te bevry van “die valslik sogenaamde kennis”.
- Lees: Eks 29-31
- Ondersoek die vervulling: Eks 31:23-25 (Wenk: Efes 4:11; 1 Joh 2:20 & 27)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Maria Magdalena:Die Ware & die Vals Bruid – posisioneer jouself “through culture shifting sand”.