Dag 425

“Maria het die goeie deel uitgekies …”

(Luk 10:41, OAV)

 

Die hoofdoel van hierdie onderafdeling was om aan te toon wat die dieperliggende implikasies is van hierdie belangrike nuweverbondbeginsel: “daar is nie meer man en vrou nie” (Gal 3:28). Ons het in redelike groot detail na vier vroueprototipes se verhouding met Jesus gekyk en bepaal dat Jesus die oorgelewerde wette wat die rol van vroue absoluut beperkend gedefinieer en afgedwing het telkens uit beginsel oorskrei het. Hy het die vroue deurgaans rondom haar persoonlike roeping en skeppingsdoel gemotiveer. Hy het die sosiale en kulturele diskriminasie teen vroue telkens uitgedaag. Hy het vroue nooit krities hanteer of berispe as hul godsdientige oorleweringe en sosiale tradisies verbreek het nie.Vroue het Hom vrylik as dissipels gevolg. Hy het bepaald ‘n totale nuwe denkwyse oor vroue kom vestig.

Veel van die wetlike voorskrifte van Moses en die Rabbynse vaders wat vroue onderdruk het en aan mans vrypas vir diskriminasie teenoor vroue gebied het, het Hy aan die kaak gestel deur uit te wys dat ‘n verkeerde hartsgesindheid enige wet vernietigend kan maak. Telkens het Hy die wette aangehaal en gesê: “Daar staan geskrywe …”, maar dan onmiddellik die korrektief gebring: “Maar Ek sê vir julle …”

Toe die mans Hom vra oor die egskeiding: “Is dit ‘n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?” (Mat 19:3), antwoord Hy hulle met die geheimenis van die huweliksverbond tussen man en vrou, wat die vraag oor egskeiding totaal irrelevant maak (Mat 19:4-6). [Ons meem dit binnekort onder die loep.] Hierop reageer hul uit ‘n wettiese eiegeregtigheid: “Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei?” (vers 7). Sy antwoord peil die wesensaard van die probleem ondubbelsinnig vas: “Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.” (vers 8).

Maar van die begin af was dit nie so nie … God het van die begin af ‘n totaal ander idee en plan met vroue gehad, wat wet en menslike oorlewering egter totaal geperverteer het.

Die gebeurtenis opgeteken in Luk 10:38-42, waar Jesus aan huis van Martha en Maria kuier, belig veel van Jesus se benadering tot vroue. Soos wat manlike studente gemaak het (Hand 22:3), sit die vrou eweneens aan die voete van Jesus terwyl Hy haar leer. Haar suster, daarenteen, het die tradisionele rol van die vrou ingeneem en bloot die mans bedien. Martha kan nie haar suster se vrypostigheid hanteer nie, en verwag Jesus moet haar betug: Vers 10: “Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” Meer as enigiets anders toon hierdie uitspraak aan hoe hoe vroue dikwels hulself stereotipeer binne geslagsrolle. Jesus se reaksie is merkwaardig en absoluut rigtinggewend, en vir eens en altyd maak Hy korte mette van die foutiewe aanname dat vroue ‘n bepaalde kulturele rol moet vervul, en maak dit duidelik dat juis dit hul weghou van God se doel vir hulle lewens: “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.” (Luk 10:41-42). Die woordjie in Grieks wat Jesus hier gebruik, “die goeie deel”, gebruik Paulus in Kol 1:12 as hy daarvan praat dat ons almal bekwaam gemaak is “om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges”. Ook, veral vroue, het ‘n erfdeel.

 

  • Sela: Maak seker dat jy nie jouself of die vroue in jou lewe van hul erfdeel beroof nie.
  • Lees: Eks 32-34
  • Ondersoek die vervulling: Eks 32:2 (Wenk: Mat 13:15; Luk 14:35; Open 3:6)
  • Delf dieper: Luister na M. Lee se lering: Breek deur die skandmuur, die muur van vrees en offense