Dag 427

“Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;

om aan gevangenes vrylating te verkondig ”

  (Luk 4:18b-19a, OAV)

 

Daar is verskeie ander voorbeelde van hoe Jesus die Joodse taboe en vooroordeel rondom vroue teengestaan het en ‘n oeroue onreg kom regstel het, maar dis nie nodig om deur al die voorbeelde te werk om te sien dat dit konsekwent die geval was nie. ‘n Laaste voorbeeld kan dien as ‘n laaste spyker in die doodskis van menslike en godsdienstige vooroordeel teenoor vroue.

Ons ken die verhaal van Mark 5:25-34 goed: ’n Vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het, het van Jesus gehoor en gedink dat sy gesond sal word as sy net aan sy kleed kan raak. Sy het deur die skare gebeur en van agter sy kleed aangeraak “en dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog” en is sy genees. Jesus het die krag wat van Hom uitgegaan het, opgemerk en wou weet wie het sy klere aangeraak? En sy dissipels vra redelik geïrriteerd: “U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak?” Duidelik was hierdie nie net ‘n toevallige noodwendige aanraking nie. Toe kyk Hy die vrou raaksien en weet en sy vir Hom sê wat sy gedoen het, sê Hy: ”Dogter, jou geloof het jou gered.”

Menstruasie, die natuurlike siklus van enige jong, gesonde vrou, het deur die Joodse oorlewering ‘n slaanstok vir vrouwees geword. Dit was nie die bedoeling van die wet nie – die prosedure rondom geslagtelike higiëne (in primitiewe omstandighede) wat in Lev 15 uitgespel word, is nie net ten opsigte van menstruasie nie, maar ook ten opsigte van mans wat onwillekeurige saadvloeiing as gevolg van geslagsiektes gehad het (Keil & Delitszch: Commentary on the Old Testament). ‘n Mens vergeet dat die meeste wette gerig was om ‘n gesonde gemeenskap in die woestyn te verseker. Landa Cope se The Old Testament Template verduidelik hoe die wette gemeenskapsorde moes verseker in uiters moeilike omstandighede, en dat dit heenwys na algemene grondslae van gemeenskapsgesondheid. Die Jode het hiervan geloofswette gemaak. Trouens, die Joodse mans het menstruasie gesien as ‘n straf wat vroue moes dra as gevolg van Eva se val in die paradys. Hulle het so ver gegaan as om ‘n onnoukeurigheid met menstruasie te koppel aan die straf dat sy met kindergeboorte sal kan sterf (Mishnah Talmud, Shabbath 3, 5b, 34).

Daar was geen sin daarin dat hierdie vrou wat aan bloedvloeiing gelei het vir twaalf jaar algemene sosiale kontak én geloofsgemeenskap ontsê is nie! Maar die gesindheid van Jesus jeens vroue het hierdie vrou vrymoedigheid gegee om in stryd met alle Joodse taboes deur te breek en die verbode ding te doen – Hom aan te raak! En Jesus reageer onmiddellik daarop, nie deur haar tereg te wys en Hom te onttrek en te gaan afsonder nie, maar om allereers te demonstreer dat al die Ou-Testamentiese wette nodeloos is sonder liefde en aanvaarding en genade. Hy het die ware wet gedemonstreer, los van die reëls wat mense doodgemaak het.

Interessant dat die uitdrukking “fontein van bloed” gebruik word, wat eweneens ook inspeel op die herstel van lewe en skeppingsdoel, Jesus se volvoering van sý skeppingsdoel, wat hier so raak gedemonstreer is, veral ten opsigte van vroue: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My  … gestuur (het) om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” (Luk 4:18-19).

 

  • Sela: Raak in geloof aan die soom van Sy kleed vir ‘n diep behoefte van jou.
  • Lees: Eks 38-40
  • Ondersoek die vervulling: Eks 40:13 (Wenk: 1 Pet 2:9; Gal 3:27; Efes 4:24; Kol 3:10, 12 & 14).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Womb-man en die soom van Sy kleed.