Dag 43

 

“En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.”(1 Kor 12:1, OAV)

Die doping met die Heilige Gees maak dit ook vir die gelowige moontlik om in die gawes van die Gees te kan funksioneer. Daar bestaan baie misverstande en wanopvattings oor die gawes, ook – selfs ook in Paulus se tyd – onkunde.

Gelowiges besit die vrugte, maar nie die gawes nie. Sien dit soos twee tipes bome: een uit wie die vrugte natuurlikerwys groei (=vrugte) en die ander soos ‘n boom waaraan geskenke (=gawes) gehang word. [Dit is nie daar vir versiering nie, maar vir gebruik.]

Daar het met die loop van die laaste eeu ‘n baie sterk persepsie ontstaan dat die teken van die doping met die Heilige Gees is spreek in vreemde tale. Hierdie Pinksterbeskouing is nie Bybels korrek nie, en het onnodiglik geweldige onsekerheid en twyfel meegebring. Daar is nêrens enige Skriftuurlike basis vir hierdie sienswyse nie. Die beste ondersteuning hiervan gee Paulus in 1 Kor 12:30: “Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?” Die antwoord hierop is nee. Soos al die ander gawes, is spreek in tale ‘n geskenk en word dit deur die Gees “gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Kor 12:7) – dit word afsonderlik uitgedeel soos Hy wil (12:11). Die waarmerk dat jy met die Gees van God gedoop is, is dat jy die stem van God kan hoor. Ons kom in latere leringe uitvoerig hierop terug.

In 1 Kor 12:7-11 word daar ‘n lys van die nege genadegawes van die Heilige Gees gegee. (Daar is ook die genadegawes van God en die genadegawes van Christus, wat ons later sal verduidelik.) Hierdie gawes van die Heilige Gees is: ‘n woord van wysheid; ‘n woord van kennis; ‘n genadegawe van geloof; ‘n genadegawe van gesondmaking; ‘n werking van kragte; ‘n genadegawe van profesie; onderskeiding van geeste; spreek in tale; en die genadegawe van die uitleg van vreemde tale.

Omdat hierdie gawes geskenke is, kan iemand dit nie as ‘n bedieningsbesit toe-eien nie. Ek glo nie dis Bybels om te praat van ‘n ‘genesingsbediening’, of ‘n ‘bediening van wonderwerke’ nie. Dit is alles gawes wat uitgedeel word wanneer die Heilige Gees wil. Kleim op besitname maak die deur oop vir demone wat dieselfde funksie (bv genesing) doen, maar dan geskied dit nié deur die Gees van God nie. Skrik groot.

  • Sela: Bedink in die Gees jou funksionering in elkeen van die genadegawes. 
  • Lees: Gen 43: Ps 43; Mat 13
  • Memoriseer: Ps 43:3 & 5.
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Genadegawes.”