Dag 433

“Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.”        

   (1 Kor 14:34, OAV)

 

 

Hierdie versie is een van daardie wat met die geskiedenis van die kerk een van die grootste wapens teen vroue geword het. Omdat ons die Bybel soms losweg en ongeïntegreerd lees, met ‘n “chapter and verse”-mentaliteit, gebruik ons derhalwe die woord van die Here as ‘n swaard om – soos een van die volgelinge van Jesus – ander se ore af te kap (Mat 26:51). Dit deug nie. Een van die belangrikste Reformatoriese beginsels wat vandag nog eweneens geldig is, is dat Skrif Skrif verklaar. As hierdie enkele vers lynreg in stryd is met die strekking van ander Skrifgedeeltes, moet ons dit dieper gaan ondersoek, want ons is besig om iets êrens mis te verstaan.

Net tersyde: die argument wat dikwels geopper word oor hierdie tipe “moeilike” Skrifgedeeltes, is dat dit vir die tyd waarin dit geskryf is, gegeld het, maar in ‘n veranderende kultuurkonteks aangepas moet word. Hierdie argument bring die gevaar om alles wat die Woord sê en waarmee ons ongemaklik is, te relativeer en diensbaar te maak aan sekulêre humanisme – alles ter wille daarvan om die eietydse mens se siening van homself en sy wêreld vir hom aanvaarbaar te maak. Maar die Skrif is baie duidelik dat dit nooit ‘n verklaringsbeginsel kan wees nie, want “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb 13:8). As Hy die vergestalting van die ewige Woord is (Joh 1:1), “by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (Jak 1:17), betoon Hy Homself as “die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde” (Jes 41:4b).

Ons moet egter wel die kulturele konteks van die tyd in aanmerking neem as ‘n eksegetiese hulpmiddel – die brief aan die Korinthiërs is nie in ‘n lugleegte geskryf nie. Daar was verskeie ernstige morele en sosiale probleme in die gemeente (sien byvoorbeeld M.C Tenney se New Testament Survey, pp. 294-308) wat Paulus rigting oor moes gee, benewens uitsluitsel oor doktriniese sake en riglyne oor grondslae van die geloof. Dit alles moes verdiskonteer word binne ‘n aktiewe en kritiese kontingent Joodse Christene wat steeds baie sterk binne die Judaïstiese denkraamwerk wou funksioneer. Die hou van die wet, die besnydenis en die rol ten opsigte van vroue in gemeentewees was van die dringende brandpunte.

Maar dit alles in ag genome, is dit dan tog belangrik dat ons ‘n Nuwe-Testamentiese uitspraak meer universeel buite dié tydskonteks moet kan lees, veral as Paulus dit so opdragstellig maak as hy sê: “dit is hulle nie toegelaat” nie, én boonop daaraan toevoeg: “soos die wet ook sê”. In die lig hiervan blyk dit onteenseglik ‘n vaste beginsel te wees dat vrouens in die gemeentes moet swyg en geensins praat nie.

Tog is dit in totale teenstelling met die funksionering van vroue in die ekklesia, hul betrokkenheid en funksionering in die vyfvoudige bediening in die territoriale kerk van die tyd: Lydia, die vroue van Berea, Priscilla, die vier dogters van Filippus, Fébé (bes moontlik ‘n ouderling), Júnias (‘n apostel), Maria, Triféna en Trifósa, die huisgemeenteleier Chloë …

Vroue kon in die gemeente “bid en profeteer” (1 Kor 11:5)? Vroue mag nie praat nie?

 

  • Sela: Probeer ‘n rede bedink hoekom God enigsins sou bepaal hoekom vroue nie moet praat nie?
  • Lees: Lev 16-18
  • Ondersoek die vervulling: Lev 16:8 (Wenk: 2 Kor 5:21).
  • Delf dieper: Lees TD Jakes se Woman thou art loosend.