“Julle vroue moet in die gemeentes swyg … soos
die wet ook sê.” (1 Kor 14:34, OAV)
As die swaartepunt van Paulus se argument in 1 Kor 14 oor orde in die gemeente tydens profetiese proklamasie dan vers 32 is: “En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe …”, dan is die daaropvolgende duidelik uitsprake nie soseer oor vroue in die algemeen nie, maar oor oor vroue wie se mans betrokke is by die profesieë en die beoordeling daarvan, en wat dan hul eie eiertjies daaroor wil lê. Hierdie vroue, sê Paulus, moet asseblief stilbly, soos die res van die gemeente ook moet stilbly as ander praat (vers 30). Charles Trombley parafraseer hierdie gedeelte verhelderend soos volg: “Don’t ask your prophet husbands questions during the time he’s judging prophecy. If you have any questions ask him at home. Don’t cause confusion during the service.”
As ons dit nou duidelik het, is daar nog een teisterende vraag wat nog nie verreken is nie – waar staan dit in die Ou Verbond dat vroue moet stil wees, en waarom sal dit die geval wees? Vers 34 sê dit immers: “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie … soos die wet ook sê.”
Ons het in Manna 410 duidelik uitgewys hoe die Joodse oorgelewerde denkraamwerk vroue as minderwaardig beskou het en hul seksisties onderdruk het, en dat dit grootliks die gevolg is van menslike wette en interpretasies. Ons het in daaropvolgende mannas in oorvloedige voorbeeld getoon dat Jesus in sy omgaan met vroue ondubbelsinnig gereageer het op die Jode se hantering van vroue. Wat Hy in Mat 15:3 uitgespel het, is eweneens van toepassing oor die issue van vroue: “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?”
Die Joodse geskiedkundige van daardie tyd, Josephus, wat homself voorstel as ‘n streng-godsdienstige Fariseër, skryf in sy Apion II: “The woman, says the law, is in all things inferior to the man. Let her accordingly be submissive.”
Maar hierin lê die kruks van die saak – wat so kwistig rondgegooi word as die wet, is bloot menslike wet en oorlewering, nie die wet wat God bepaal het nie. Alle Joodse vereistes vir die onderdanigheid van vroue spruit uit oerbronne in die Mishnas en bepaald nie die Ou Testament nie. (Onthou: die Mishna is die rabbis se eie kommentaar en interpretasie oor die Torah. Daarbenewens is die Arameense Gemara ‘n versameling van addisionele besprekings en kantaantekeninge oor die Mishnah en die werklike betekenis daarvan. Dit word kollektief as die orale wet aanvaar wat in die tweede eeu na Christus opgeteken is en geweldige hoë erkenning gekry het in Joodse gemeenskappe. Dit het sienderoë ookipso facto God se wet geword.)
Die gesaghebbende Duitse leksikograaf van die Griekse taal, J.F. Schleusner, bevestig ondubbelsinnig in sy The Tyro’s Greek Lexicon oor die frase ‘soos die wet ook sê’: “The expression ‘as also saith the law’ refers to the Oral Law of the Jews now called the Talmud.”
As ons in hierdie lig sintakties raaklees wat eintlik in 1 Kor 14:34 staan, word dit soos daglig helder – Paulus sê: Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat (soos die (oorgelewerde) wet ook sê) om te spreek nie, maar om onderdanig te wees.
Presies die teenoorgestelde betekenis as wat al die jare geleer is oor die saak.
- Sela: Bid vir bevyding vir vroue wat deur verkeerde eksegese en lering gebind word.
- Lees: Lev 22-24
- Ondersoek die vervulling: Lev 23:5 (Wenk: 1 Kor 5:7).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Verstaan jou vroulike identiteit – Op soek na Integrasie.