“Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.”
(1 Tim 2:12, OAV)
In die vorige manna het ons die moeilik-integreerbare Skrifgedeelte van 1 Kor 14:34-35 in detail ontsyfer en tot absoluut verrassende insigte gekom wat strook met die res van die Bybel se beskouing oor vroue. Ons het vroeër genoem dat dit die eerste van twee Skrifte is wat aan bod moet kom om hierdie saak in die reine te bring. Die tweede Skrif is 1 Tim 2:12, wat hierbo aangehaal word.
Op grond van hierdie Skrif is vroue deur die eeue verhoed om predikers te word, wat vandag steeds die geval is by bepaalde behoudende denominasies. Maar die stigma bly steeds kleef aan vroue omdat hierdie saak nog nie ten regte beredeneer is nie en die Skrifgedeelte spesifiek nie na behore verduidelik is nie. Dis ‘n redelike ingewikkelde argument, maar dis belangrik dat ons die white rabbit’s trail volg om by ‘n sinvolle en geïntegreerde verstaan van hierdie Skrifgedeelte te kom.
Met die wegholsukses van die romanskrywer Dan Brown se The Da Vinci Code het baie eietydse lesers vir die eerste keer kennis geneem van ‘n beweging wat in die vroeë kerk baie meer op die voorgrond was as wat ons vandag daarvan bewus is – die Gnostiek. Dis nie ‘n begrip wat enigsins eksplisiet in die Bybel voorkom nie, alhoewel verskeie van die Nuwe Testamentiese briewe geskryf is om die dwingende suurdeeg van hierdie filosofie teen te staan. Bybel-kommentators is dit dikwels eens dat Paulus se uitspraak in 1 Tim 6:20-21 ‘n duidelike verwysing is na die Gnostiek (Grieks: gnosis = esoteriese kennis): “o Timótheüs, bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis, waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ‘n dwaalweg geraak het.” Law, in sy boek The Tests of Life, sê hiervan: “That strange, obscure movement, partly intellectual, partly fanatical … in the 2nd century spread with the swiftness of an epidemic over the church from Syria to Gaul.” In sy The Apologetic of the New Testament stel prof E Scott die reikwydte daarvan só: “The late books of the New Testament are all occupied, more or less, with this movement, which was the more dangerous as it threatened the church from within.”
Wat het die godsdienstige filosofie behels? Vir die doel van ons kursoriese oorsig gaan net twee sake uitgelig word. Eerstens: basiese eenvoudige geloofswaarhede is verruim met esoteriese kennis wat hoofsaaklik verkry is deur mistieke ervarings en taalgeheimenisse (dis ook die grondslag van die Joodse Kabbala). Tweedens: gebaseer op die oorlewering dat Eva geheime kennis van die slang en die boom van kennis van goed en kwaad ontvang het, is vroue uitgehef as ‘n bron van privileged knowledge. Dit het aanleiding gegee tot die konsep van die Feminine Mistique, wat leer dat godsdienstige en gepaardgaande seksuele blootstelling aan vroue deel is van die soeke na die heilige graal (wat volgens Dan Brown blyk te wees die baarmoeder van die Gnosties-prototipiese simbool Maria Magdalena). Hierdie komplekse sisteem van kennis wat opgebou is in hoogs intellektuele godsdienstige gemeenskappe (in alle betekenisse van die woord), was die teelaarde vir Paulus se streng woorde oor vroue wat nie mag leer nie. In die volgende manna sal dit in groter detail binne hierdie konteks belig word.
- Sela: Hoe vind die Gnostiek gestalte in ons eietydse teologiese beskouing en belewenis?
- Lees: Lev 25-27
- Ondersoek die vervulling: Lev 26:26 (Wenk: Jes 19:19; Miga 6:14; Hag 1:6; Mat 4:4).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Maria Magdalena as voorstelling van die vals Bruid.