“hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste wasom reg te doen” (1 Kon 3:28, OAV)
Die eerste genadegawe wat ons bespreek, is die genadegawe van ‘n woord van wysheid. Wysheid het niks te doen met menslike insig en die vermoë om goeie raad te gee nie. Trouens, Jak 3:15 noem hierdie wysheid van mense: “aards, natuurlik, duiwels”. Die Engelse vertalings noem dit worldly, sensual/self-centred and demonic. Jakobus kontrasteer dit met die wysheid wat van bo (=van God) is.
Dwarsdeur die Ou Testament is daar getuienis dat mense gevul is met die gees van wysheid. In Eks 31:6 word van Ohóliab en andere gesê: “En in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles wat ek jou beveel het, kan maak”. Van Josua word in Deut 34:9 gesê hy was “vol van die Gees van wysheid; want Moses het hom die hande opgelê”. En dan natuurlik Salomo: “En God het aan Salomo wysheid gegee en ‘n baie groot verstand en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê” (1 Kon 4:29). Ons kan ook nog Daniël en sy vriende noem (Dan 1:4) wat besondere wysheid gedemonstreer het.
Jesus word in Luk 2:40 só beskryf: “En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid.” Paulus noem Christus in 1 Kor 1:24 die kulminasie van “die wysheid van God”. Wanneer die genadegawe van wysheid vir jou gegee word, word jy in staat gestel om God se wysheid in ‘n komplekse situasie in te spreek. ‘n Baie goeie voorbeeld daarvan is Salomo se antwoord aan die twee prostitute wat baklei het oor wie se seun dit is (1 Kon 3:16-28). Jesus se antwoorde het dikwels ook gespreek van bonatuurlike wysheid, en dit het almal om Hom verstom (Mat 13:54).
Jak 3:17 gee die riglyne waarvolgens ‘n woord van wysheid beoordeel moet word: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik (open to reason), vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.”
As jy bonatuurlike wysheid in ‘n situasie nodig het, bid en vra vir ‘n genadegawe van wysheid van die “Gees van wysheid” (Efes 1:17). Jy het die versekering van Jak 1:5: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
- Sela: Maak die wonderlike uitnodiging van Jak 1:5 vas en wakker dié genadegawe aan.
- Lees: Gen 44: Ps 44; Mat 14
- Memoriseer: Ps 44:22 (Eng:23).
- Vir dieper delf: Gaan lees Spr 8:22-31 in terme van Christus wat hier gepersonifieer is as die Wysheid.