Dag 440

“Ek laat die vrou egter nie toe om … oor die man te heers nie … Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.”  

(1 Tim 2:12-13:, OAV)

 

Uit die vorige manna het ons gesien dat die frase “om te heers” in die Skrifgedeelte hierbo slegs een keer in die Bybel voorkom, en dat dit geensins te doen het met wat vry algemeen in Christelike terme submission and covering genoem word nie. Hierrondom is helaas ‘n hele onskriftuurlike dogma rondom die verhouding tussen mans en vroue opgebou.

Die Griekse woord wat elders gebruik word vir outoriteit is exousia, wat ongelukkig dikwels eerder vertaal word as krag. (Die meer korrekte woord wat met krag vertaal kan word, is dunamis. Vergelyk bv in 1 Kor  15:24 waar albei die woorde naas mekaar, en reg vertaal, gebruik word.)

Die woordjie  “oorheers” (authentein) is ontleen aan die wêreld van die Griekse teater (Scanzoni & Hardesty: All we’re meant to be) en is gebruik in die konteks van ‘n selfgeldende krag wat lei tot self- of familiemoord. Later het dit die betekenisse verkry van eiesinnig en arbitrêr, “to thrust oneself”. Catherine Kroeger skryf ekstensief hieroor en wys uit hoe die begrip later met Euripides ook ‘n seksuele tint verkry het, later met Theseus selfs ook ‘n pedofiliese en homoseksuele assosiasie.

In hierdie lig is dit weer eens duidelik dat ons nie sonder meer rondom hierdie woordjie ‘n teologie mag bou nie – dit is spesifiek gebruik in die geval van die vroue wat in en deur die Gnostiek verhef is tot middelaars. Seksuele praktyke as simboliese geestelike dade is in hierdie tydperk van die vroeë kerk ‘n dwingende probleem.

Die Gnostiek het ook geglo dat die vrou eerste geskape is, en toe Adam. Paul korrigeer ook hierdie oorlewering deur eksplisiet te sê: “Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.” En dan troef hy die laaste aanname van die Gnostiek, naamlik dat Eva ‘n geheime kennis (gnosis) by die slang ontvang het, deur kategories te stel: dit is Eva wat verlei is, nie Adam nie. Ons moet nie meer hierin lees as wat dit probeer sê nie.

Dus: ons behoort hierdie hele passasie te sien as ‘n uitgebreide argument rondom ‘n dwaling in die vroeë kerk, en nie as ‘n ewig-bepaalde geestelike riglyn vir die verhouding tussen ‘n man en sy vrou nie. Hierdie gedeelte gaan nie oor die opbou van ‘n geslagspesifieke muur tussen man en vrou nie, maar om ‘n dwaling se kop te verbrysel.

Dit bring ons dan wel tog by hele kwessie van geestelike outoriteit en die verhoudingsorde tussen ‘n man en sy vrou tussen gelowiges wat sáám “mede-erfgename van die genade van die lewe is” (1 Pet 3:7). In die sewentigerjare het die wêreldwye leringe van Bop Mumfert gewelige aanhang begin kry en ‘n teologie opgebou wat aan die man ‘n ereplek in God se skeppingsorde gegee het. Dit het gelei tot die algemene dwaling dat die man die koning, priester en profeet van sy huis is. Ons deel hiermee in die volgende manna.

 

  • Sela: Maak vir jouself uit hoe jy 1 Kor 11:3 verstaan.
  • Lees: Num 10-12
  • Ondersoek die vervulling: Num 11:15 (Wenk: Fil 1:23-24; Eseg 22:30;Jes 59:16; Joh 15:13).