“Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou …”
(1 Kor 11:3, OAV)
Dis ironies genoeg dikwels vroue wat mans aanmoedig om die koning, priester en profeet van hul huis te word, soos God dit bedoel het. Dit klink na ‘n mooi geestelike ding om te sê, maar dis glad nie Bybels nie en perpetueer ‘n skeiding tussen manlike en vroulike outoriteit.
Hoekom sê ons so? In die Woord is daar nie meer man en vrou nie, weet ons deeglik uit Gal 3:28. Kan ‘n vrou dus ook ‘n koning, priester en profeet wees?
Open 5:9-10 deel met die eerste twee begrippe. In ‘n brief wat geskryf is aan God se “dienskengte” (Open 1:1), aan die sewe gemeentes van Asië” (1:4), wat duidelik ook vroue ingesluit het (2:20), sê dit in die Lied van die Lam, wat al die verlostes sal sing: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Mans én vroue is deel van die “koninklike priesterdom” waarvan 1 Pet 2:9 praat, alhoewel hul dit nie per definisie is nie.
En profeet? Alhoewel alle mense geroep mis tot konings en priesters, is almal nie geroep as profete nie. Alle mans is dus nie noodwendig profete nie. En daarmee saam: die Skrif is vol van vroue wat wél as profete opgetree het: Miriam (Eks 15:20), Debora (Rigt 4:4-5), Hulda (2 Kon 22:14), Noadia (Neh 6:14), Anna (Luk 2:36-37) en die dogters van Filippus die evangelis (Hand 21:8-9). Mans en vroue kan profete wees, maar is dit ook nie noodwendig nie.
Maar laat ons nou kyk na wat Paulus bedoel het met geestelike outoriteit uit ‘n geslagsoogpunt. Die masskrif hierbo uit 1 Kor 11:3, ook Efes 5:22-24, word baie wyd ingespan om ‘n bepaalde outoriteitsverhouding te verduidelik: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.”
Die kern van hierdie passasies setel in die gebruik van die woordjie “hoof” (in Grieks kephale). Al drie die leksikons van Grieks wat ons geraadpleeg het, maak dit duidelik dat dit in die spesifieke Skrifgedeeltes geensins meen “superior to” of “one having authority” nie. In ‘n artikel van proff Mickelsen wat in Christianity Today (Feb 20, 1981) verskyn het, doen hul ‘n detailanalise van die gebruik van die woord en bevind dat dit dui op “originator and completer”. Dis te verstane dan: Die man was die “originator” van die vrou; Jesus die “originator” van alles, ook die man Adam (1 Kor 8:6b); en God is die “originator” van Jesus (Joh 8:42). Om nie aan “hoof” ‘noodwendig ‘n outoriteitsposisie te heg nie, maar dit te sien as ‘n funksionele eenheidsterm, is 1 Kor 11:12 se duidelike slotsom: “Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.”
- Sela: Gaan die betekenis van “hoof” na in Kol 1:18, 2:19, Efes 4:15
- Lees: Num 13-15
- Ondersoek die vervulling: Num 15:38-40 (Wenk: Kol 3:2; Fil 3:19; 4:8; 2 Kor 8:21).
- Delf dieper: Lees Leonard Swidler se boek Biblical affirmation of women.