Dag 442

 

“en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag”  

   (Kol 2:10, OAV)

 

Om nie aan die begrip “hoof” ‘noodwendig ‘n outoriteitsposisie te heg nie, maar dit te lees as funksionele verhoudingsposisie, dit te sien as ‘n funksionele eenheidsterm, is in die vorige manna uitgewys. Uiteraard kan ‘n hoof nie sonder ‘n liggaam funkioneer nie. En as dit nie relasioneel hier gebruik word nie, maak dit nie sin nie – is ‘n hart nie eweseer belangrik vir lewe as die brein nie? Johannes die Doper se kop moes waai (Mat 14:10) omdat hy die prototipe van die ou verbond/bedeling was (Mat 11:11) en Jesus die Hoof van die Liggaam in die Nuwe Verbond moes word. Kol 1:18 stel dit mooi soos volg: “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.” Die man was eerste; Jesus was eerste; God was eerste – hulle was/is hoof/Hoof – eerste/Eerste.

Hierdie eerste, die hoof, se doel is om alles tot volheid te laat kom (Kol 2:10; Efes 4:10) – dis een van die belangrikste funksies van die Hoof/hoof.

As ons vir ‘n oomblik weer kan terugkeer na 1 Kor 11:3 – “But I would have you know, that the head of every man [= andros = mankind, male and female] is Christ; and the head of the woman is the man [aner, or husband] …” Jesus is die Hoof van die man én ook die hoof van die vrou. Die outoriteitslyn: God→Jesus→Man→Vrou is dus nie in terme van outoriteit ontvouend nie, maar in terme van orde sodat hulle wat volg in die lyn tot volkome vervulling kan kom!

In hierdie lig is die volgende Skrif van groot belang: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” (1 Pet 3:7). Ons lees “swakkere” hier helaas as teenpool van wat daar nie staan nie, naamlik dat die man die sterkere van die twee geslagte is. DIT STAAN EGTER NIE DAAR NIE! Dit staan ook nie daar dat die vrou die swakkere IS nie, bloot dat die man haar as die swakkere (= “a most delicate vessel” – ISV) moet hanteer. (Al loop die duiwel rond soos ‘n brullende leeu, is hy dit nie – 1 Pet 5:8; Jes 14:16.) Die klem lê dus nie of wat hy is of sy nie is nie – die klem lê daarop dat hul saam erfgename van die lewe is.

In Manna 429-431 is uitvoerig beredeneer dat die vrou eintlik streng gesproke die man se meerdere is, maar in God se perfekte ordesisteem word sy onder die man gestel. MAAR, met die volgende kwalifisering – as hy nie sy vrou eer nie (“a valuing by which the price is fixed” – Thayer), sal God nie sy gebede verhoor nie. Die man wat voel dat hy teen die dak vasbid se probleem lê daarin dat hy nie sy vrou genoeg eer nie – nie bereid is om sy lewe vir sy vrou af te lê nie. As die mans in Mal 2:13 “met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van hulle hand nie aanneem as welgevallig nie” vra wat die probleem is, antwoord God ondubbelsinnig duidelik in vers 14: “En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.”

 

  • Sela: Probeer aan iemand hierdie Goddelike ordelyn van God verduidelik.
  • Lees: Num 16-18
  • Ondersoek die vervulling: Num 18:11 (Wenk: Open 6:6; 9:4; Esra 6:9; ).
  • Delf dieper: Luister na Yvonne Dippenaar se cd-lering: Debora: die profetiese voorloper.