Dag 443

 

“Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.”  

   (1 Tim 2:15, OAV)

 

Die laaste vers uit hierdie problematiese gedeelte van Paulus se brief aan Timóteüs – wat spesifiek handel oor allerhande sake rondom vroue – skep eweneens heelwat interpretasie-probleme. Lesers van die Manna sal op hierdie stadium wel deeglik agterkom dat ‘n groot rede vir moeilike tekste spruit uit die prekêre tradisie van vertaling. In Afrikaans het ons net een letterlike vertaling, die 1933/1953- of Ou Vertaling. Al die ander vertalings is hoofsaaklik kontekstuele vertalings of parafrases. Vertaling staan ongelukkig altyd in diens van die dogma van die vertalers wat hul onbewustelik dwing om sekere woordkeuses te maak op grond van hul geloofsoortuiging. Die dogma sluip in in die wyse waarop die vertalers na die wêreld deur hul teologiese bril kyk.

Hierdie vers ter tafel is ‘n goeie voorbeeld daarvan. Soos dit hier vertaal is uit die Grieks, kan dit eintlik geweldige teologiese misverstande meebring. Byvoorbeeld:

  • die vrou sal gered word deur geboorte te skenk? Met ander woorde: ‘n vrou hoef nie Jesus aan te neem as Verlosser nie – sy kan bloot kinders baar, en sy is gered?
  • die vrou se redding sal egter net intakt bly as haar kinders op ‘n voorgeskrewe geestelike wyse lewe: “in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid”, én daarin volhard – as hul dit nie doen nie, verloor die ma dan haar redding?
  • of verwys die “hulle” perdalks nie na die kinders nie, maar na die vroue, wat sou beteken dat die vroue benewens die feit dat hulle kinders gebaar het, daar nog ander gedragsvoorskrifte of werke vereis word vir redding?
  • en ‘n mens sou tereg kon vra: wat dan van die vroue wat nie getroud is, of dan kinders het nie – kan hul dan nie gered word nie?

Uiteraard is al bogenoemde moontlike afleidings in stryd met die evangelie van verlossing asook die wyer boodskap oor God se siening van vroue en moederskap. Maar dis soos dit hier vertaal staan – en ons sluk dit dikwels naïef bloot omdat dit geskryf staan. Uit ander Engelse vertalings kom ander gekkighede:

  • “But if they go on in faith and love and holy self-control, she will be kept safe at the time of childbirth.” (BBE). Wat sou beteken dat vroue wat deur moeilike kindergeboortes gaan, of selfs sterf, nie aan die geloofsvoorwaardes vir redding voldoen het nie?
  • “Yet a woman will be brought safely through childbirth if she and her husband continue to live in faith and love and growing holiness, with habitual self-restraint.” (WNT). Daar is in die oorspronklike taal geen verwysing na “husband” nie, en die “habitual self-restraint” plaas ‘n duidelike seksuele etiket op die saak wat baie moeilik te versoen is met die oorspronklike segging, maar eerder in diens staan van die vertalers se piëtistiese seksuele oortuigings.

Besef hiermee: dat ‘n mens altyd die Woord ondersoekend moet lees en jou nie aan die teologie van vertalers alleen moet toeverlaat nie; en dat dit slegs met die hulp van die Gees van God kan geskied, wat alleen die oorspronklike bedoeling kan agterhaal (2 Pet 1:21; 3:2).

 

  • Sela: Maak uit hoe jy van nou af die Bybel gaan bestudeer.
  • Lees: Num 19-21
  • Ondersoek die vervulling: Num 21:8-9 (Wenk: Joh 3:14-15 ).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-reeks: Hoe vra die Bybel om gelees te